Skietery toe rowers probeer vlug

Drie verdagtes is agter tralies danksy die flink optrede van twee sekuriteitsbeamptes na 'n gewapende roof in West Village.

Drie gewapende rowers het hul rieme styfgeloop kort nadat hulle ‘n algemene handelaar in West Village beroof het.

Volgens EPR Sekuriteit se algemene bestuurder Johan Krogh het twee mans met handgewere omsteeks 3.10nm op Maandag 10 Maart op die winkel toegesak en voorraad geëis.

“Hulle het die voorraad gevat en gevlug … of so het hul gedink,” sê Krogh.

“Dit was seker so bestem dat EPR-skofleiers Adriaan Fritz en Wimpie Lombaard etlike sekondes later by die winkel gestop het en die winkeleienaar hulle toe vertel het dat hy pas beroof is.

“Fritz en Lombaard het in hul voertuig gespring en die twee rowers agtervolg tot by ‘n punt waar ‘n derde verdagte met ‘n groen Opel vir hulle gewag het.”

Die twee verdagtes te voet het in die kar geklim en die bestuurder was reg om weg te jaag, maar die EPR-skofleiers was hulle een voor en het hulle vasgekeer.

Skote is kort daarna vanuit die verdagtes se voertuig gevuur en die beamptes het teruggevuur.

Een van die verdagtes is in die proses in die been gewond en EPR het vinnig reageer.

Sekondes later was al drie verdagtes geboei en die polisie en nooddienste is ontbied.

Die verdagtes is gearresteer onder andere op aanklag van gewapende roof.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version