Huis vir verswaktes in gedrang: raadslid bult spiere

Sy weier om op te hou veg vir stemlose verswaktes.

Die VF Plus het die stadsraad van Mogale City gewaarsku om op te hou voete sleep met die registrasie van die La Reynette Huis vir Verswaktes.

Amanda de Lange, stadsraadslid van die Vryheidsfront Plus in Krugersdorp, het die huis in Rant-en-Dal besoek. Reinette Ridley het die huis sewe jaar gelede begin vir verswaktes wat nie vir hulself kan sorg nie.

Sy het haar uit die staanspoor van wetgewing rondom so ‘n plek vergewis en die nodige regulasies nagekom om te sorg dat al die betrokke departemente genader is en aan al die vereistes voldoen is. Verskeie departementele ampenare op plaaslike en provinsiale vlak het die huis besoek om self te kyk of alles in orde is.

“Ons het geweldige teenkanting van ‘n buurman gekry en dit wou voorkom of hy alles in sy vermoë doen om ons werksaamhede te probeer stop. Dit is egter nie so maklik om die huis te skuif nie, omdat dit geweldig baie geld kos om so ‘n fasiliteit daar te stel. Intussen kom ons elke voorskif na en sorg dat die mense wat hier woon, gelukkig en tevrede is,” sê Ridley.

De Lange, wat die huis jare lank reeds tydig en ontydig besoek, sê sy het nog nooit iets ongewoon daar aangetref nie.

“Ons het sulke versorgingsoorde nodig. Mense wat hier woon en hulle families praat slegs met lof van die versorging en huisvesting. Dit is huislik en intiem. Dokters en mediese personeel is gedurig hier om hul pasiënte te besoek.

“Die munisipaliteit moet sê wat nog nodig is om goedkeuring te verkry sodat die La Reynette Sentrum kan voortgaan met hul goeie en opregte werk,” sê De Lange.

Die registrasieproses is steeds aan die gang, en De Lange meen die teenkanting spruit uit persoonlike vendettas en ander duistere motiewe. Sy sê sy sal nie gaan lê voor die huis nie geregistreer is nie.

Intussen het Mogale City se woordvoerder Nkosana Zali die huis besoek en sy waardering uitgespreek teenoor die personeel en die werk wat hulle vir die gemeenskap doen.

Die NUUS sal verdere verwikkelinge met die registrasieproses dophou en daaroor verslag lewer.

Exit mobile version