Sopkombuis kry nuwe huis

Nou is daar ook kos vir die siel by Deo Gloria se sopkombuis.

Sowat 150 honger mae word dagliks deur die Deo Gloria Sopkombuis in Burgershoop gevul en al voorspel ekonome ‘n moeilike tyd vir die land in 2014, sit die groep vrywillgers met ywer hul werk voort in die nuwe jaar.

Met die nuwe jaar het daar nie net nuwe uitdagings vir die sopkombuis gekom nie, maar ook ‘n tikkie goeie nuus.

“Te danke aan ‘n plaaslike kerk, Maranata Aanbiddingsentrum, het ons ‘n nuwe huis of te wel ‘n nuwe kombuis waar ons die talle kinders kan voer wat so afhanklik van ons is,” vertel stigter Christa le Roux.

Sy noem dat sy ten tye van die stigting van die sopkombuis op Burgershoop besluit het om haar spreekwoordelike tentpenne in te slaan omdat dit ‘n area is waar die nood baie groot is.

“Dit het begin met ‘n kein groepie kinders en het vinnig geroei tot die 150 gesiggies wat daagliks by ons kom aansit vir hul enigste maaltyd vir die dag.”

Maar Christa het gou begin voel dat sy nie net die klein liggaampies moet voed nie maar dat daar ook darem kos vir die siel moet wees – so is ‘n verhouding met Maranata Aanbiddingsentrum gebore.

“Pastoor Pillip Friggens het sommer dadelik sy kennis, diens en ook die kerkperseel vir ons aangebied en daardeur hoop in ‘n klomp harte gesaai,” sê Christa.

Die groep vrywilligers agter die skerms (of eerder die kospotte) van Deo Gloria Sopkombuis het reeds ‘n paar maaltye in die kerkgebou voorberei en inwoners word uitgenooi om by Maranata Aanbiddingsentrum, Humanstraat 109 in Krugersdorp-Wes in te loer.

Exit mobile version