Local newsNews

R24: motoriste verontagsaam padreëls

Foto's wys hoe motoriste nie by die padreëls op die R24 hou nie en gevaarlike situasies vir hulle en ander padgebruikers inhou.

Louwrens Jacobs, die pa van Alicia (20) wat in Maart in ‘n noodlottige ongeluk gesterf het, is baie emosioneel wanneer hy oor sy dogter praat en voel dat ‘n bewusmakingsveldtog nodig is om mense oor die gevare van die pad in te lig.

'n Motor ry op die geel geverfde eiland op die R24-Tarltonpad.
‘n Motor ry op die geel geverfde eiland op die R24-Tarltonpad.

“Die R24-Tarltonpad is ‘n gevaar vir motoriste aangesien dit ‘n hoë ongeluksrisiko inhou. Die mense wat hierdie pad gebruik, moet daarvan bewus gemaak word. Al word dit net gedoen sodat ongelukke waarin menselewens gesteel word verminder word, sal dit reeds vertroosting bied.”

Hy het veral ‘n geel geverfde eiland uitgewys in die pad wat na sy huis lei en sê dat motoriste en vragmotorbestuurders die padreëls verontagsaam en oor hierdie 100m-eiland ry om motors aan die linkerkant verby te steek.

“Ek moet baie keer vir hulle padgee sodat hulle by my motor kan verbyjaag. Dit is hier waar talle ongelukke al gebeur het en nog wag om te gebeur.”

Hy noem dat hy lank voor die tyd sy motor se flikkerlig aanskakel om te wys dat hy wil regs draai om dié padgebruikers vroegtydig oor sy voorneme in te lig, maar dat hy steeds van die pad afgedruk word.

Dit is nie net gevaarlik om kanse by sulke eilande te waag nie, maar dit is ook onwettig aangesien daar ‘n wit lyn op die pad geverf is wat motors verbied om bane te verwissel.

Joe de Seusa, die eienaar van ‘n padkafee langs die R24 sê vandat hy sowat ‘n jaar en ‘n half terug die eienaar geword het, was daar maklik sewe tot agt noodlottige ongelukke op die stuk van die pad voor sy winkel.

“Die pad is die heeldag besig met heelwat motorfietsryers wat ook met ‘n spoed verbyjaag.”

Hy verwys ook al na die R24 as die pad van die dood.

Die verslaggewer het al verskeie kere in die verlede gesien hoe motoriste die padreëls op die R24 verontagsaam en gevaarlike besluite neem. Vier dae na hierdie onderhoud het die NUUS nog ‘n soortgelyke voorval op kamera vasgelê.

Op 4 September is die oomblik waarop ‘n motoris ‘n vragmotor en ‘n motor ten spyte van aankomende verkeer op die R24-Hoofrifweg onderweg na Johannesburg probeer verbysteek het, op kamera vasgelê.

Dié motoris het in die kort gedeelte gery wat vir motoriste bedoel is wat wil regs draai.

Back to top button