Pad van die dood: pa soek steeds antwoorde

Gesin rig kruis op ses maande na dogter se skielike dood.

Die seer na die afsterwe van die Jacobs-gesin se lieflingdogter Alicia (20) is nog rou.

Te midde van die pyn, die soeke na antwoorde en verwyte het die gesin op Lentedag 1 September ‘n kruis by die ongelukstoneel opgerig, presies ses maande na die noodlottige botsing wat haar van hulle weggeruk het.

Alicia se pa, Louwrens Jacobs, sê hulle weet nog nie presies wat daardie dag gebeur het toe sy dogter dood is nie en wil ook antwoorde hê oor wat met die bestuurder van die vragmotor gaan gebeur wat sy dogter en Mimi Koekemoer (47) se lewens in Maart vanjaar geëis het.

Koekemoer het Alicia by die huis gaan oplaai en haar ‘n saamrygeleentheid werk toe gegee. Die ongeluk het voor Alicia se werksplek plaasgevind.

Payloads, die maatskappy aan wie die vragmotor behoort wat in die botsing betrokke was, se operasionele direkteur Daan Joubert het met die NUUS gesels.

Hy sê volgens sy vragmotorbestuurder se verklaring het Koekemoer in haar wit Volkswagen Golf en ‘n minibustaxi hom verbygesteek.

“Hy skryf dat omdat dit daardie dag gereën het, sy uitsig oor die pad beperk was. Die Golf het skielik dood gestop om te draai en die taxi het probeer uitswaai, maar my vragmotor het hom aan die kant getref en toe met haar kar gebots.”

Hy sê sy bestuurder is ‘n goeie drywer en is een van sy staatmakers, en dat hulle ‘n groter kans het om ongelukke te maak omdat hulle baie meer kilometers as die gewone motoris aflê.

“Hierdie ongeluk was een van die ergstes wat ons in die laaste tien jaar aangemeld het. Die laaste ernstige ongeluk was sowat vier jaar gelede toe een van ons bestuurders aan die slaap geraak het as gevolg van ‘n mediese toestand. Hy word gevolglik nie meer toegelaat om te bestuur nie.”

Jacobs stem egter nie met hierdie verduideliking saam nie en sê dat dit sinneloos vir Koekemoer sou wees om ‘n vragmotor verby te steek as sy dogter se werksplek slegs ‘n paar kilometer van haar huis af is.

Kaptein Appel Ernst, ‘n polisiewoordvoerder sê dat polisielede binnekort met die familie in aanraking sal kom met inligting oor die presiese gebeure wat tot die dood van hulle dogter gelei het.

“Die polisie-ondersoek van die ongeluk is afgehandel. Ons wag nou net vir die patoloog se verslag wat as bewyse in die hof gebruik sal word.”

Exit mobile version