CrimeLocal newsNews

Die laaste strooi na sesde inbraak

'n Egpaar van West Village gaan hulle huis in die mark sit na die soveelste inbraak.

‘n Egpaar van West Village gaan sak en pak van die plek af trek wat hulle vir meer as 12 jaar hulle tuiste genoem het nadat hulle reeds ses keer vanjaar slagoffers van misdaad was.

“Ons kan nie meer so aangaan nie; ons bly lekker hier, maar ons is besig om vir ons lewens sowel as dié van ons kinders te vrees,” vertel Isabella Smith, ‘n tuisteskepper, nadat diewe op 5 Julie helder oordag by haar en haar man Christo se huis wou inbreek.

Sy sê die diewe slaan die erf se grensmure uit om in te kom.

“Hulle het, terwyl ek in die huis was, die kombuisvenster uitgeslaan en die voordeur wat na ‘n ‘n vorige inbraak vervang is, met ‘n piksteel stukkend geslaan.”

Sy sê sy het vier mans gesien.

“Ek het vinnig gehardloop en ons vuurwapen gaan haal. Ek het vier skote in hulle rigting afgevuur waarna ek die alarm se noodknoppie gedruk het. Die een het nog die vermetelheid gehad om vir my te wys dat hy terugkom.”

Christo sê dat die inbrake hom reeds sowat R70 000 se skade besorg het.

Inbrekers het tevore met ses televisiestelle, drie yskaste, my kinders se klere, ‘n vrieskas, kos en geld weggekom.

“Ek het al die vensters met diefwering toegesweis, diefwering voor die deure gesit en die agterdeur by die kombuis toegebou sodat hulle nie kan inkom nie, maar nou voel dit of ek in ‘n tronk bly.”

Hy sê vyf van hulle honde is ook al vergiftig.

“‘n Mens kan nie meer so wil lewe nie. Ek werk bedags by die myn in Westonaria en wil nie daaraan dink dat iets met my gesin kan gebeur wanneer ek nie daar is nie.”

Hy sê daar is maklik drie tot vier inbrake per week net in hulle straat.

Chantelle Joubert, wat ook in dié straat bly, het voorheen aan die NUUS gesê dat sy die indruk kry dat dit onwettige myners is wat deur die dag by die huise inbreek.

Die Smiths sê ‘n saak is by die Krugersdorp Polisie aanhangig gemaak.

Ends/…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button