Laerskool Kenmare

Laerskool Kenmare

Kennies-Fees: Geskiedkundige Agtergrond – Donderdag 3 Februarie 2022

VERLEDE

Laerskool Kenmare was in die sewentigerjare deel van Monument Primary, wat ‘n dubbelmedium skool was.

Daar was ‘n groot behoefte aan ‘n Afrikaanse laerskool en Kenmare is gebou op ‘n kleinhoewe met die naam Grace Dieu (Genade van God ) wat voorheen aan Pieter Kleinloog, ‘n suksesvolle hoenderboer behoort het.

Sy grond is in 1964 onteien, en tien jaar later het die skool sy deure geopen.

Met 400 leerders en 17 onderwysers was dit die begin van ‘n wegholsuksesverhaal. Vandag spog ons met 1 212 leerders en 87 personeellede. Wouter Immelman is die vyfde hoof van ons skool. Die ander hoofde was Danie Marais, 1974 – 1976; At van der Merwe, 1977 – 1993; Chris van Rooyen, 1994 – 2003; Kallie Rautenbach, 2004 – 2013; en Wouter Immelman, 2014 – tans.

Toppresteerders 2021

Graad 7 - Lize Nel
Graad 6 - Elaine Trauernicht
Graad 5 - Matthew Roberts
Graad 4 - Eduan Opperman

HEDE

Laerskool Kenmare is vandag die voorloper in Krugersdorp en ons blink uit in akademie, kultuur en natuurlik ons sport. Ons skool is al vir die afgelope nege jaar deel van die Super 12-skole en Kenmare is jaarliks ‘n groot krag om mee rekening te hou.

Kenmare is die enigste skool met ‘n volledige verrykingsprogram wat vir ons begaafde leerders ‘n groot lekkerte is. Ons is ook uniek met ons Kennies Inklusief-program waarmee ons seker maak dat ons ons leerdeers met sekere akademiese en/of emosionele uitdagings kan help om gou weer suksesvol te word in dit wat hulle aanpak.

Ons skool se leerders blink uit in die akademie en is jaarliks onder die toppresteerders in die Departementele akademiese kompetisies soos Art in Maths en Mental Maths. Ons graadsewes blink jaarliks uit in die Conquesta-vraestelle van die Departement. Ons plaaslike hoërskole soos Nories en Monnas, en ook Helpmekaar is elke jaar dankbaar vir die gebalanseerde leerders wat vanaf Kenmare by hulle inskryf. Ons leerders is jaarliks deel van hulle Top 10 akademiese presteerders en hulle word later deel van die leierskorps van hierdie hoërskole.

Kenmare staan ook uit op kultuurgebied en presteer jaarliks met ons redenaars, in die kunswedstryde, skaak, revue ( Frogs ) en ander kunskompetisies.

Op sportgebied het ons skool ook ongekende hoogtes bereik. Ons is jaarliks die toppresteerders in die rugby-, krieket- en hokkieligas, en ons huidige o.12A-netbalspan is deel van die Gauteng Kampioenskappe.

Ons skool is in 2016 aangewys as die tweede beste rugbylaerskool in SA met Paarl Gimnasium in die eerste plek. In 2017 was ons skool derde geplaas en vanjaar is ons in die sesde plek – skitterprestasies vir een laerskool aan die Wes-Rand.

TOEKOMS

By Kenmare is ons ‘n familie. Ons is trots op ons pragtige skoolterrein, ons fasiliteite wat voortdurend verbeter word, ons ouers wat altyd ondersteunend is, en ons is natuurlik baie trots op ons Kennie-kampioene wat alles in hul lewe met durf en daad aanpak en die beste daarvan maak.

Ons spog met puik onderwysers wat altyd die beste vir ons kinders wil hê. Ons slagspreuk is ‘Alles tot voordeel en belang van ons kinders’, en ons leef dit so ver as moontlik elke dag uit.

In Jeremia 29:11 staan geskryf:

“Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”

Ons is geweldig dankbaar teenoor die Here; dankbaar vir Sy liefde, genade en guns wat Hy oor die afgelope 45 jaar aan ons in hierdie skool geskenk het. Ons dien Hom onbeskaamd en bely dat ons niks in Kenmare wil aanpak as ons dit nie in Sy Naam kan doen nie.

Ons bring hulde aan elke vorige skoolhoof van hierdie skool, elke voorsitter van die Beheerliggaam en sy lede, elke personeellid wie se paaie met dié van Kenmare gekruis het, asook aan ons bestaande onderwyskorps wat vreesloos doen wat gedoen moet word om ons wonderlike skool op die wenpad van sukses te hou.

Ons dank ons bestaande Beheerliggaam-ondervoorsitterskap van Jacques Coetzer, wat saam met elke onderwyser droom en wie se inisiatiewe altyd vernuwe word om te verseker dat net die beste vir Kenmare se kinders gedoen word. Dankie dat jy soveel van jou persoonlike tyd opoffer vir hierdie skool!

Ons is opgewonde oor Kenmare se toekoms, en weet dat die volgende 45 jaar asemrowend gaan wees!

Back to top button