Laat die wiele draai

Volgens Suné verskaf die skool daagliks kospakkies aan 80 leerders, en soms is dit die enigste kos wat hulle vir die hele dag ontvang.

Planet Fitness Krugersdorp het op Saterdag, 1 Oktober ‘n unieke liefdadigheidsprojek ten bate van Roodepark Skool aangebied.

Dit volg nadat hulle hul voelers uitgesteek het na verskeie plaaslike skole met die doel om ‘n verskil te maak.

“Dis die eerste keer dat ons na Roodepark Skool uitreik. Ons het net gevoel dat ons graag daar ‘n verskil wil maak omdat hul fisiese, emosionele en geestelike behoeftes redelik groot is,” het fiksheidsinstrukteur en projekorganiseerder, Suné Smith vertel.

Volgens Suné verskaf die skool daagliks kospakkies aan 80 leerders, en soms is dit die enigste kos wat hulle vir die hele dag ontvang.

“Ons wou graag ‘n bydrae maak om hul lewens net ‘n bietjie makliker te probeer maak. Ons wou graag hê hulle moet kan sien daar is hoop en daar is mense wat omgee,” het sy vertel.

Dié fondsinsamelingsgeleentheid is onder die #planetfitnesscares-veldtog aangepak en het bestaan uit drie sessies van een uur elk. Deelnemers kon kies om die projek te ondersteun deur een van die 23 stilstaande fietse te trap of by een van die Zumba-sessies aan te sluit.

Alhoewel deelnemers kontantdonasies bygedra het, het hulle ook die projek ondersteun deur middel van niebederfbare kos, klere en skoene.

Volgens Suné is die projek goed ondersteun, en was daar 71 deelnemers op die fietse en 52 by die Zumba-sessies. ‘n Paar leerders van die skool het ook in die pret gedeel.

Elke deelnemer het ‘n dankiegeskenkie ontvang wat deur Jaco Fick van Epizone, en Madri Small en Francois van Dyke-Geyser van ROI Technologies Complete IT Solutions geborg is.

“Ek sê graag baie dankie vir Planet Fitness Krugersdorp, ons CGM Quentin Roberts en Roodepark Skool se Morné Opperman asook ons instrukteurs, Morné Voster, Wessel Kritzinger, Maureen Botha en natuurlik die Zumba-span. ‘n Groot dankie aan hulle wat ‘n verskil kom maak het,” het Suné gesê.

“My motto in die lewe is ‘Touching hearts and changing lives … there is power in unity!’. As ons almal saam staan om ‘n verskil te maak is ons ‘n onstuitbare krag. Ek wil graag hê die leerders moet weet dat daar altyd hoop is en dat liefde die kragtigste wapen is.”

Joey Whitfield geniet die geleentheid. Foto: Alanicka Lotriet.
Jamie Whitfield en Joey Whitfield. Foto: Alanicka Lotriet.
Danyal van der Schyff en Jamie Whitfield trap die pedale. Foto: Alanicka Lotriet.
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version