Pret en spoed in die modder saam Kennies
Kennies hou jaarlikse Kaskardag om fondse vir die skool in te samel.
Laerskool Kenmare het Vrydag, 30 Augustus hul jaarlikse Kaskardag op die skool se rugbyveld gehad. Dit is ook gehou in samewerking met hul graad 7’s se Entrepreneursdag.
Wouter Immelman, hoof van Kennies, sê die hoofdoel van die dag is om fondse vir die skool in te samel, maar dit is die spanbou en gees van die dag wat ook vir die leerders baie belangrik is.
“Die wins wat deur die Entrepreneursdag gegenereer word, sal ook aangewend word vir die graad 7 se afskeid later in die jaar.”
Die kaskaruitdunne was tussen die Knikkies; graad 1 en 2; graad 3 en 4; graad 5 en 6, en die graad 7, om te bepaal wie die vinnigste kaskarklas is.
Daar was selfs ‘n wedloop waar van die onderwysers gejaag het, waar hulle almal met modderige klere in die koue weer weggestap het!
“Ek wil ‘n beeld skep onder die leerders; wat hulle doen, is ek ook bereid om te doen. Dit is belangrik om hierdie dinge saam met die leerders te doen,” het Wouter vol gras en modder afgesluit.