Hou vlerke hou! Nories se arendskuikens hou atletiek
Nories het sommer dadelik gewys wat in hul steek op die sportveld tydens die jaarlikse graad 1-atletiekdag.
Laerskool Krugersdorp-Noord se arendskuikens het skaars grootskool begin maar is reeds vol selfvertroue om hul sporttalente ten toon te stel.
Dit was duidelik tydens die jaarlikse graad 1-atletiekdag en in die geval was dit nie ‘n kwessie van hou bene hou nie, maar eerder hou vlerke hou.
Volgens departementshoof Quintin Botha was hul tema vanjaar ‘Op die plaas’ met die maatjies wat almal in Khaki-klere gepronk het.
“Ons het die byeenkoms afgeskop met ‘n lied en dans. Daarna het die atletiekprogram begin wat alle boeresporte soos eierloop, sakresies, ‘n hindernisbaan, hekkieswedlope en aanleer van ‘n kreet ingesluit het. Die byeenkoms is beëindig met ‘n mini-aflos lopie vir die maatjies.”
Na die byeenkoms het die nuwe ouers ‘n gesellige kenmekaar bygewoon waar hulle lekker kon kuier om mekaar asook die Norie-personeel beter te leer ken.