Local news

Van Riebeeck-woonstelle bejaardes sonder water, krag en hoop

Die inwoners van die Van Riebeeck-woonstelle voel dat hul klagtes op dowe ore val.

Die inwoners van die Van Riebeeck-woonstelle sit al vir maande met hul hande in hul hare weens lang gras, geen elektrisiteit, stukkende vloere, koue storte en gebarste waterpype.

Dit is maar net van die dinge wat hul lewe daagliks moeilik maak.

Johan en Magda Els woon al 11 jaar in hul woonstel. Toe hulle ingetrek het was dit ‘n mooi plek wat onderhou is, het hulle vertel. In die verlede het hulle ‘n fout gerapporteer en dan word dit reggemaak, maar deesdae val al hulle klagtes op dowe ore – dit is nou as hul oproepe wel beantwoord word.

Johan vertel dat al wat hul heeltyd hoor is dat daar nie geld is nie. Hy het verduidelik dat hy self al gaan krane en pype koop het en dan het die munisipaliteit dit vir hulle kom insit, want die plaaslike munisipaliteit het nie die bergoting om self die krane en pype te koop nie.

‘n Muur wat al vir jare stukkend is.

Die paartjie en hul bure sit al vir meer as ‘n maand sonder ‘n geiser. Ander inwoners al vir meer as ‘n jaar.

Raadslid Mark Trump vertel dat hy self nie meer weet watter kant toe nie. Hy wou graag die inwoners help, maar kry ook geen terugvoer van die munisipaliteit. Hy het verduidelik dat daar wel mense is wat bereid is om geisers te skenk, maar dat die munisipaliteit nie toelaat dat iemand anders die werk doen nie.

Vloere word deur termiete opgevreet.

Vir die afgelope ses jaar is Ina en Petrus Swanepoel al inwoners by die woonstelle. Hulle huis het termiete, die vloere in hul badkamer en kombuis het al gate in en op plekke kan dit selfs inval.

Oor die algemeen lewe die inwoners van net een of miskien twee staatspensioene. Paartjies wat elk ‘n staatspensioen kry verdien dan gesamentlik R4 180 per maand. Hulle betaal R745 vir huur, R400 vir krag (wanneer daar is), R240 vir gas vir die stoof (soms meer indien hul water moet kook om mee te was en bad) en R300 vir medikasie. Dit los hulle met R2 495 per maand vir kos en ander noodsaaklikhede.

Petrus is blind, dra ‘n gehoorstuk en moet sy bloeddruk en suiker gereeld toets. Hierdie is als ekstra uitgawes en dan nog nie eers te praat van ‘n enkel inwoner se uitgawes nie.

Die gras is lank.

Die woonstelle is omring met ‘n muur, maar daar is gereeld mense wat in die veld aan die agterkant aangeval en vermoor word en soms spring kriminele ook oor die muur. Plek-plek is hierdie muur ook stukkend en op een plek is dit al vir jare nog nie reg gemaak nie. Die gras is oorgroei en die bome voorsien die perfekte skuiling vir iemand wat in die nag wil wegkruip. Boonop is daar ook nie buiteligte nie.

Elize Harmse het ‘n waterpyp wat in haar muur gebars het. In die aande hoor sy hoe loop die water en die muur se struktuur is nie meer veilig nie. Sy sit al ‘n jaar sonder warm water. Trump het verduidelik dat hulle selfs die munisipaliteit met ‘n dienssertifikaat kan voorsien wat bewys dat die herstelwerk by die woonstelle voldoende sal wees indien daar van ‘n buite kontrakteur gebruik gemaak word, maar die deure word heeltyd in sy gesig toegeslaan.

Vlekke op die plafon waar die geiser gebars het.

Die munisipaliteit het terugvoer gelewer op die Krugersdorp News se navrae oor hoekom die gemeenskap nie die bejaardes mag help met skenkings nie. In hul verklaring sê hulle die woonstelle is die eiendom van die munisipaliteit en individue kan nie net besluite maak sonder die raad se toestemming nie. Geïnteresseerde skenkers is welkom om ‘n formele besigheidsvoorlegging aan hulle raadslid te maak. Hulle voorlegging sal aan die spreker van die raad, die bestuur van die behuisings departement en raad voorgedoen word.

Hulle het ook vertel dat die veiligheid, waardigheid en algehele netheid van die woonstelle en die inwoners vir hulle baie belangrik is. Inwoners word ook aangeraai om hul deel te doen deur na die eiendomme te kyk.

“Dit moet gemerk word dat die instandhouding van munisipale eiendom deur die toegestaande begroting gelei word en word aangevul deur kostes wat die belastingbetaler sal dra,” het die munisipaliteit in hul verklaring gesê.

Hulle het bygevoeg dat die woonstelle oud is en dat vervanging die enigste oplossing gaan wees vir die ou infrastruktuur. Maar so ‘n projek het wye implikasies en die inwoners sal die eiendom moet ontruim vir ‘n lang tydperk.

Daar is geen werkende buiteligte nie.

“Die lae maandelikse huur bedrag sal skaars die opknappingswerk dek wat beteken die projekkostes sal deur die munisipaliteit se ander inkomstes gedek moet word. Goedkeuring word ook deur die raad benodig.”

Daar is verder aan die News verduidelik dat die persoon verantwoordelik vir dié munisipale woonstelle ongeskik en onbevoeg is.
Die munispaliteit het laat weet dat enigiemand wat voel asof hulle onregverdig behandel word deur ‘n munispale amptenaar, ‘n klagte moet lê by die betrokke amptenaar se bestuurder sodat interne prosesse kan plaasvind.

Inwoners moet klagtes aan die munisipaliteit se instandhouding afdeling rig en kan 011 951 2000 skakel en vra om na die afdeling deurgeplaas te word.

Die munisipaliteit het ook gevra dat Trump hulle moet inlig waar hy die situasie aangemeld het, sodat hulle kan opvolg.

Back to top button