SchoolsSport

Grey bo in Kennies se agterplaas

Op Woensdag, 8 Maart het Laerskool Kenmare sy jarelange verhouding wat byna twee dekades strek met die span van Bloemfontein in die Vrystaat voortgesit.

Daar was hope durf en daad van die Swartmasjien maar dit was net nie genoeg om een van Suid-Afrika se top rugbyskole en swaargewigte in die sport, Grey College, te stuit nie.

Op Woensdag, 8 Maart het Laerskool Kenmare sy jarelange verhouding wat byna twee dekades strek met die span van Bloemfontein in die Vrystaat voortgesit en alhoewel dit nie Kennies se dag op die rugbyveld was nie, het die seuns van beide skole alles gegee; wen of verloor.

Ian Ferns van Kennies duik oor vir ‘n pragdrie.

Wedstryde het reeds om 14:00 tussen die o9’s afgeskop en tot minstens na 18:00 met die o13A’s afgesluit. Grey was aan die wenkant in al die kragmetings maar ten spyte van die resultate het die Kennies-woordvoerder Peter du Toit die kragmeting as uitstekende voorbereiding vir die liga beskou en die opponent se lof besing.

Twee Kennies skarrel terug om ‘n Grey-speler te keer.

“Ek dink hulle is een van die beste rugbyskole in die land en vir ons as Kenmare is dit belangrik om teen ‘n top skool soos Grey kragte te meet. Die tellings was nooit wegholseges nie en ons het ongelooflike rugby gespeel waarop elke seun trots kan wees. Elke Kennie het nooit ophou baklei nie.

“Ons het ongelukkig te veel drieë op ‘n skinkbord weggegee. Die feit bly staan as jy teen Grey ‘n fout maak is dit sewe punte teen jou – dit is die realiteit en wat hulle so goed maak.”

Hoek toe!

Volgens Peter was dit ook nie die eerste keer wat die twee skole koppe stamp nie en kom hulle al ‘n lang pad saam.

“Ons en Grey College het ‘n verhouding wat 17 jaar kom en in die tydperk het ons meer as 20 keer teenmekaar gespeel – ons by hulle en hulle by ons. Ons het in daardie tydperk hulle al baie geklop en dit boonop weg van die huis af ook.”

Wickus Marais van Kennies.

Die Kennies-eerstespan mik natuurlik weer hoog in 2023 en is daar hoë verwagtinge. Kennies en Kruiners (Laerskool Helderkruin) het juis verlede jaar die Goue Leeus Rugby Unie se Superligabeker vir laerskole se o13’s gedeel na ‘n 24-elk gelykopuitslag en hulle sal die keer nie net een hand op die trofee wil hê nie maar eerder albei.

Hul volgende vriendskaplike wedstryd (tuis) is hierdie week teen Laerskool Generaal Hendrik Schoeman van Hartbeespoortdam. Die liga skop eers in die tweede kwartaal af.

VOLLEDIGE UITSLAE:

• o9A Grey College wen 39-14
• o11B Grey College wen 40-5
• o11A Grey College wen 19-3
• o13C Grey College wen 24-5
• o13B Grey College wen 33-12
• o13A Grey College wen 34-14

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button