Nories krieketseuns gereed om sesse vir Gauteng te slaan
Drie krieketseuns van Laerskool Krugersdorp-Noord is tot die o12 Gauteng-streekspan verkies terwyl een seun die o13 Gauteng-span gehaal het.
Laerskool Krugersdorp-Noord is baie trots op hul krieketseuns wat onlangs verskeie Gauteng-spanne gehaal het.
Johann Harding, die eerstespan krieketafrigter het gesê dat hul seuns die jaar baie krieket gespeel het en toe gestuur is om deel te neem aan die Krugersdorp- en Gauteng-Wes-proewe.
Die Gauteng-Wes spanne speel in ‘n toernooi teen ander Gauteng spanne. Tydens vanjaar se Gauteng-Wes toernooi was daar keurders wat seuns geïdentifiseer het om aan die Gauteng-span en Gauteng-streekspan se proewe deel te neem.
Drie van die seuns Etienne Joubert, Eduard Maritz en Dihan Grové van Laerskool Krugersdorp-Noord is tot die o12 Gauteng-streekspan verkies terwyl Iwan Oosthuizen gekies is vir die o13 Gauteng-span.
Die seuns sal in November in ‘n toernooi teen ander streke deelneem.
“Noordskool is trots op ons krieketseuns!” het Johann gesê.