In die Wolke met Nories
Ongeveer 12 000 mense het die afgelope Saterdag Nories se Afrikaans in die Wolke-fees bygewoon.
Duisende mense was in die sewende hemel tydens Hoërskool Noordheuwel se Afrikaans in die Wolke-fees op Saterdag, 17 September.
Volgens skoolwoordvoerder Sonet Guy het ongeveer 12 000 mense die fees bygewoon wat as die suksesvolste tot nog toe beskou word. Dit was iets wonderlik om te beleef, veral nadat die pandemie soveel hartseer gebring het. Die fees is weens die pandemie laas in 2019 aangebied.
“Die fees het al ons verwagtinge oortref en mense was uitgehonger om sosiaal te verkeer. Ons is so dankbaar teenoor die Krugersdorp-gemeenskap en selfs die buurskole se ouers en kinders wat ons ondersteun het. Dit was voorwaar ‘n fees vir oud en jonk – ouma en oupa ook – en ons sou dit nie sonder die publiek kon doen nie.”
Die lys van kunstenaars wat die dag opgetree het was lank en indrukwekkend. Die sogenaamde moeder van Afrikaanse musiek, Juanita du Plessis, het die fees afgeskop met ‘n paar van haar grootste treffers. Appel het daarna omtrent die harte warm laat klop met sy vertoning wat Nonna en Boer is ‘n Bok ingesluit het.
Irene-Louise van Wyk het behoorlik die tekkies van die feesgangers laat brand, met die rustige Elvis Blue wat weer effense kalmte gebring het. Daar is toe na ‘n ander rat oorgeskakel toe kletsrymer Early B sy verskyning gemaak het, gevolg deur die uitstekende Demi Lee Moore. Die voorlaaste vertoning is deur nog ‘n gewilde Afrikaanse kletsrymer Snotkop gelewer wat die jongklomp op en af laat spring het, terwyl Bok van Blerk die fees met sy alombekende Ons vir jou Suid-Afrika afgesluit het.
Die musiek was so lekker dat party sommer op die plek begin sokkie het. Cyrus van der Heever was so meegevoer dat hy op die verhoog voor die groot skare vir Danel Pogenpoel gevra het om te trou.
As die musiek nie in jou smaak geval het nie was daar ‘n biertent om jou dors te les, stalletjies wat smullekker kos en ander items verkoop het, en natuurlik die groot pretpark met allerhande soorte vermaak.
Guy het vertel dat daar met so ‘n groot aantal besoekers beslis ook uitdagings was.
Die lang rye is iets waaraan ons sal werk. Ons moes soms water uitdeel om mense te probeer gemaklik hou maar ons sal volgende keer verseker dat daar meer kos- en koeldrankstalletjies is.
“Ons het ‘n ruk terug besluit om in plaas van ‘n klomp klein fondsinsamelings iets groot te doen en dis hoe die fees ontstaan het. Dis nie net vir Nories nie maar ook die gemeenskap. Ons het beslis ‘n wins gemaak waaroor ons baie dankbaar is, maar met so ‘n groot fees is daar baie uitgawes, onder andere die verhoog, struktuur, die toilette, tente en topkunstenaars.”
In dieselfde asem het Guy gesê dat die skool graag wil teruggee aan die gemeenskap.
“Ons sal binnekort bekendmaak aan watter organisasie ons ‘n gedeelte gaan gee.
Ons beplan ‘n nog groter fees in 2023.”
Lisa van Rooyen en Sarah-Leigh Knighton.
Alta en Dawid Kriel, Noordheuwel se hoof het ook die fees geniet.