Local newsNews

Is die Paul Krugersaal in Krugersdorp-Wes die plakkerskamp vir vlugtelinge?

Die Paul Krugersaal was in die jare tagtig ‘n gewilde lokaal ... maar is nou vervalle en 'n hawe vir vlugtelinge.

Die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se optrede om herhaaldelik vlugtelinge voor die deur van die geskiedkundige Paul Krugersaal in Krugersdorp-Wes af te laai en van hulle te vergeet, is onmenslik en kan nie goedgekeur word nie.

So voel Hetta Kruger, Vryheidsfront Plus-raadslid vir Mogale City.

Kruger het gesê die VF Plus het die saal na klagtes van die publiek gaan besoek. “Daar is feitlik niks oor van die gebou nie. Die elektriese kragboks is uit die muur geruk, die toilette is buite werking en water stroom uit stukkende krane. Rommel en leë bierbottels lê die gebou vol.

“Meer as 40 manlike inwoners van die voormalige Makulu Gama-plakkerskamp in West Village is drie maande gelede deur die munisipaliteit toestemming gegee om hul intrek in die gebou te neem. Dié plakkerskamp, wat oorwegend deur onwettige myners (zama-zamas) bewoon is, is gekenmerk deur onrus onder verskillende kultuurgroepe.”

Sy het genoem dat die sinkhuise in die plakkerskamp afgebreek is en dat inwoners inderhaas ‘n nuwe tuiste moes vind.

“Die saal is voorheen vir meer as vyf jaar deur meer as 100 onwettige buitelanders beset, maar hulle is verlede jaar hervestig na vele klagtes en dreigemente uit die gemeenskap. Die VF Plus het die munisipaliteit telkens versoek om alternatiewe behuising vir die mans te vind.”

Die Paul Krugersaal was in die jare tagtig ‘n gewilde lokaal vir spogonthale, troues, danse, modevertonings, politieke vergaderings en prysuitdelings.

Die VF Plus gaan daarop aandring dat die munisipaliteit alternatiewe behuising aan die mense verskaf, die saal skoonmaak en tot sy eertydse glorie herstel. Op dié manier kan die saal weer aan die publiek beskikbaar gestel en gebruik word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button