Local newsNews

Hawelose vriende mekaar se genade

Met trane in sy oë smeek die 'vakansieverkeerslig' se karwag en bedelaar die gemeenskap vir werk.

“Vandag gaan iets goed met ons gebeur,” het Keith Unwin vir sy vriendin gesê toe hulle gisteroggend op die treinspoor naby die ‘vakansieverkeerslig’ wakker geword het.

Keith Kiddo Unwin en Diane Schutte is twee vriende wat vir die afgelope ses maande onder die bome op die treinspoor op die bult naby Barrattweg slaap.

Die twee haweloses het mekaar ses maande gelede in Homelake in Randfontein ontmoet waar Keith aangebied het om saam met Diane terug Krugersdorp toe te kom.

Vanjaar is die 50-jarige Keith se sewende jaar op straat. Hy is ‘n elektrisiën wat tans sonder werk sit. Hoewel hy nie gekwalifiseerd is nie, meen hy hy sal selfs tuinwerk doen vir geld.

Diane Schutte, Keith Unwin en Oupa slaap snags op die ou treinspoor by die 'vakansieverkeerslig'.
Diane Schutte, Keith Unwin en Oupa slaap snags op die ou treinspoor by die ‘vakansieverkeerslig’.

Hy is deesdae karwag by die kafee oorkant die verkeerslig waar hy soms net R40 per dag maak.

“Ek soek net ‘n werk, ek sal enigiets doen,” het Keith met trane in sy oë vertel.

Diane, wat maar 37 is, staan daagliks by die verkeerslig waar sy bedel vir geld.

“Kyk na my neus, ek staan en bedel,” het sy gesê terwyl sy na haar erg gebrande vel gewys het.

Sy het verduidelik dat sy ook nie veel meer as Keith verdien nie, maar dat dit oor naweke beter gaan.

“Ek kry so skaam as ek op straat staan en bedel. Ek het al my hare onder ‘n kraan by die taxi rank gewas,” het Diane gesê.

Sy het gesê alhoewel sy nie geleerd is nie, is sy bereid om huise skoon te maak vir ‘n beter inkomste.

“My ma het my darem geleer hoe om wasgoed en skottelgoed te was.”

Soms, wanneer hulle die dag genoeg geld gemaak het, gaan hulle na die Tower of Life-skuiling waar hulle ‘n bord warm kos kry, vir drie minute lank mag stort en op ‘n bed kan slaap.

“Natuurlik, dis soos ‘n droom, die skuiling voel soos ‘n hotel teenoor die harde en ongemaklike treinspoor,” het Keith gesê.

Goeie vriende Keith Unwin en Oupa leef van die hand na die mond op die treinspoor by die sogenaamde 'vakansieverkeerslig'.
Goeie vriende Keith Unwin en Oupa leef van die hand na die mond op die treinspoor by die sogenaamde ‘vakansieverkeerslig’.

Die twee deel ‘n kombers, ‘n duvet en ‘n kussing waar hulle elke aand op ou bokse slaap. Hulle deel die stukkie grond met ‘n plaaslike herwinner, Oupa wat al jare daar woon.

Saans maak Oupa vir hulle ‘n vuurtjie waarom die drie sit en hul kos met mekaar deel.

Met trane in sy oë het Keith die News oor die besige straat gelei en gesê, “Toe ek vanoggend opgestaan het, het ek vir Diane gesê, vandag gaan iets goed gebeur, en toe kom kuier jy”.

Verwante artikels:

Bedelaar eintlik aspirant komediant

Bedelaar bêre dwelms onder sy bed

Gewese bedelaar en verslaafde ‘n man duisend

Back to top button