Local newsNewsUpdate

Gewese bedelaar en verslaafde ’n man duisend

Michael Botha kyk nou na die toekoms met hoop.

Ses maande na die News met Michael Botha langs die straat ‘n onderhoud gevoer het, staan die gewese bedelaar en dwelmverslaafde nou sterk op sy eie twee voete.

“Ek het na ’n maand in rehab eintlik al gevoel ek kon huis toe gaan. Die plek het wonders in my lewe verrig,” het die 26-jarige Michael in sy ma se huis waar hy nou bly vertel.

In Junie verlede jaar het hy vir die News vertel hoe bang hy is om by sy ma te bly. Michael het gesê hy het sy werk gelos en by sy ma uitgetrek omdat hy hulle nie wil besteel nie. Maar nou staan ’n ander man hier en praat.

Nie net het Michael heelwat gewig opgetel na hy voorheen baie skraal was nie, maar hy inspireer ook talle verslaafdes en herstellende verslaafdes met sy storie.

“Elzna O’Cally, wat ook op Krugersdorp se strate geleef het, het vir my ’n versameling van al die artikels wat die News oor my geskryf het, gebind met ekstra briefies en foto’s by.”

Michael maak nou die boek vol met nog meer foto’s van hom saam met familie en vriende.

“Ek is so trots op hom,” het Michael se ma, Antoinette gesê.

Sy het vertel dat dit baie moeilik vir haar was om haar kind te sien struikel met dwelmverslawing. Maar volgens haar was dit ’n goeie les vir hom.

“Toe ons hom by Freedom Recovery Centre (FRC) gaan haal het en gesien hoe hy verander het, was almal vreeslik emosioneel.”

Michael voor hy na die rehabilitasiesentrum is en Michael na 'n paar weke se behandeling.
Michael voor hy na die rehabilitasiesentrum is en Michael na ‘n paar weke se behandeling.

Michael was skaars twee weke by Walking With Winners Rehabilitasie Sentrum voor hy weer op straat beland het.

Daarna het hy ’n vier-maande kurses by FRC voltooi. Hy het gesê sy geloof het hom sterk gehou.

“Die hofbevel wat my familie teen my gekry het, het my ook herinner dat ek tronk toe sou gaan as ek weer sou weghardloop, en ek is bang om tronk toe te gaan,” het hy gesê.

Vandag lag hy en sy ma oor sy vorige vrees vir die tronk, maar dit was eens al wat hy geken het. Die heroïen het Michael se emosies gedemper.

Michael gaan vanjaar vir ’n vaste werk soek en plekke soos Sivewrightstraat met opset vermy. Hy is goed met sy hande, het hy gesê. Hy gaan ook vir die eerste keer aansoek doen vir ’n identiteisdokument en weer sy leerlinglisensietoets skryf.

Michael het gesê sonder die borge wat hom finansieël oor die vier maande gehelp het, sou hy heel waarskynlik nog by die verkeerslig gestaan en bedel het.

Verwante artikels:

• [VIDEO] ‘Ja, ek bedel vir dwelms’

• Beggar Michael missing

• [VIDEO] Michael in rehab for two weeks and counting

• Beggar Michael is back

• UPDATE: Michael begs no more

Back to top button