Editor's choiceLocal newsNews

[FOTO’s] Duisende liters water oppad Vrystaat toe

Die Wes-Rand gemeenskap het hande gevat om dorpies wat in droogte gedompel is te gaan help.

Woensdag, 6 Januarie, was ‘n groot dag vir Krugersdorp se Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) gewees. Dit blyk hulle is nog lank nie klaar nie.

Meer as 20 000 liter water is in 24 uur ingesamel om mense wat sonder water is, te verlig. Verskei GPF sektore regoor Krugersdorp en Randfontein het in ‘n konvooi na Randfontein toe gery om die honderde bottels water te gaan aflewer waar ‘n trok dit na noodlottige dorpies in die Vrystaat gaan vat.

In Francisca se erf lê volgemaakte bottels reg om vervoer te word.
In Francisca se erf lê volgemaakte bottels reg om vervoer te word.

Die volgende oggend is 36 000 liter water deur Grain Carriers ook geskenk.

Francisca De Souza-Calvert, ‘n lid van GPF Sektor 3, het die News vertel hoe groot die dorp se ondersteuning is.

“Ek het gister [6 Januarie] van 9vm tot die volgende oggend net na middernag rondgery om waterbottels, gevul of leeg, te gaan oplaai,” sê sy.

Oumas, oupas, ma’s, pa’s, boeties, sussies en vreemdelinge het by sekere aflaai punte grootlik boorgatwater gevulde bottels gaan aflewer. Sektor 3 het reeds twee JoJo waterhouers as donasies ontvang.

Francisca de Souza-Calvert (voor links) saam met haar helpers maak lee bottels vol water.
Francisca de Souza-Calvert (voor links) saam met haar helpers maak lee bottels vol water.

“Daar het gisteraand 18 bakkies en vyf sleepwaens Randfontein toe gery. Maar dit het alles begin met ‘n klein versoek,” vertel Francisca.

Volgens haar het ‘n Randfontein inwoner, Miemie Fick op die Randfontein GPF Facebook-blad versoek vir insameling van net 300 liter water.

“Toe ek weer sien, kom die GPF met hulle helder baadjies en ligte laat die aand by my huis aan en pak honderde bottels water in my erf uit,” vertel ‘n emosionele Miemie.

Sy het gesê dat hulle beplan om volgende week ‘n tweede trok te kry om water wat steeds instroom, af te lewer. Randfontein GPF lede belpan die vervoer van die water.

Lede van die Sektor 3 Gemeenskapspolisiëringsforum wat gehelp het om die bottels vol te maak en na Randfontein te vervoer.
Lede van die Sektor 3 Gemeenskapspolisiëringsforum wat gehelp het om die bottels vol te maak en na Randfontein te vervoer.

“Daar is mense wat nog duisende liters water uit hulle boorgate wil skenk, maar ons het nie houers daarvoor nie. Daarom het ons bottels of iets soortgelyk nodig,” sê sy.

As jy graag sou wou help om die dorpies wat sonder water in die Vrystaat is, verligting te gee, kan jy Saterdag by Rant-en-Dal Spar bottels, leeg of vol water, by die GPF tent gaan aflaai.

Miemie vertel sy kan steeds nie die ondersteuning glo nie, “Mense is regtig awesome, regtig waar.”

Om na nog foto’s te kyk, kliek hier.

Verwante artikel:

• Water shortages: council releases statement

• Angry residents to petition against water shortage

Hierdie JoJo houer word ook volgemaak. Voor staan Richard Calvert en Victor Botha, ook GPF lede.
Hierdie JoJo houer word ook volgemaak. Voor staan Richard Calvert en Victor Botha, ook GPF lede.

Back to top button