Local newsNews

[VIDEO] ‘Ja, ek bedel vir dwelms’

24-jarige Micheal is bang hy besteel sy geliefdes en het homself dus geisoleer van sy vorige lewe af.

Bedelaars – wat gaan aan? Oral oor Krugersdorp staan ‘n bedelaar by ‘n verkeerslig.

Soms gee jy ‘n geldjie, soms koop jy ‘n broodjie. Van 24-jarige Michael Botha tot middel-veertig-jarige Rose, wat ‘n verkeerslig saam met Michael deel, bedel elkeen vir ‘n ander rede.

“Ek is verslaaf aan heroïen,” meen Michael.

“Ek staan op hierdie hoek, want ek wil nie steel en in die tronk op eindig nie. As ek ontrekkings in die tronk kry, gaan ek selfmoord pleeg,” verduidelik hy.

Lees hier: Bedelaar bêre dwelms onder sy bed

Michael sê hy het sy werk gelos en by sy ma uitgetrek omdat hy hulle nie wil besteel nie. Hy bly nou in ‘n huis waarvoor hy R30 ‘n aand moet betaal. Sy kamermaat, Rose, het aan die News vertel dat sy bedel om haar vier kinders te ondersteun.

“Ek wens ek het hulle nooit gehad nie. Hulle verdien ‘n beter lewe en ek sukkel om dit vir hulle te gee,” sê sy.

Hannelie Nieuwenhuys, ‘n ma van ‘n vorige verslaafde en bedelaar, stem saam dat ontrekkings baie erg kan wees. Haar 30-jarige seun het self al sulke ondervindings gehad met heroïen.

“Die dwelm vat jou emosies heeltemal weg. My seun, Mickey, het die dood van sy nefie só verwerk.”

Vandag is Mickey al ‘n week in ‘n rehabilitasie kliniek. Hy gaan ‘n ses maande kurses voltooi teen R6 000 per maand en dan in ‘n halfweghuis gaan bly.

“Hy sal hopelik van daar af sy lewe weer aan mekaar sit.”

Maar Michael het steeds hoop.

“My ma se nuwe man het gesê hy sal my help. Ek wil graag ook na ‘n rehabilitasie sentrum toe gaan. Ek wil my ou lewe terug hê.”

* Met net R20 kan jy ‘n verskil in ‘n hawelose se lewe maak. Die Tower of Life-stigting in Krugersdorp bied ‘n heenkome vir haweloses en vir R20 kan ‘n hawelose ‘n warm bord kos, ‘n stort en ‘n bed vir ‘n aand geniet. Hoe kan jy help? Borg ‘n hawelose deur vir hom of haar ‘n bewys, in plaas van geld, te gee wanneer hulle by ‘n verkeerslig bedel. Jy kan ook bewys boekies van ‘n R100 elk by Tower of Life aankoop om by jou te hou. Skakel Anthony of Gabby by 011 660 4610 of 060 992 8719 vir meer besonderhede.

Verwante artikels:

• Bedelaar eintlik aspirant komediant

• Bedel? Nie ons nie!

• Bedelaars skel jou as jy nie gee nie

• Bedelaar of kulkunstenaar?

Back to top button