Local newsNews

Tuinguru stel wenkeboek vry

Met dié boek deel hy sy passie en bewys tuinmaak is nie so moeilik en ingewikkeld nie.

In die Groenvingers-insetsel van die immergewilde program Brêkfis met Derrich Saterdagoggende op RSG gesels JJ van Rensburg al vir sewe jaar lank tuinsake met Derrich Gardner.

JJ is ’n gerekende tuinboukundige met 20 jaar ervaring in die groen bedryf by Garden World in Muldersdrift, en is ook bekend vir sy ander radio- en televisieoptredes en bydraes tot die tuinbourubrieke van verskeie tydskrifte. Dié tuinguru beantwoord ook luisteraars landswyd se kwelvrae oor tuinprobleme.

JJ se boek Elke seisoen is jou beste seisoen. Maak tuin saam met JJ van Rensburg wat hy in samewerking met Tinus Oberholzer geskryf het, is ’n volkleur praktiese gids oor hoe om jou tuin heeljaar op sy beste te laat vertoon. Al die noodsaaklike tuintake, vaardighede en tegnieke word saamgevat in een boek. Baie van die raad en wenke wat in die boek gegee word, spruit uit Derrich se gewilde radioprogram.

Met dié boek deel hy sy passie en bewys tuinmaak is nie so moeilik en ingewikkeld nie.

Meer oor die boek

• Die seisoen-tot-seisoen-benadering van die boek maak dit maklik vir alle tuiniers om die nodige take in die tuin te verrig soos en wanneer dit nodig is.

• Elke seisoen se tuintake vir eenjariges, meerjariges en bolplante, struike, bome en rankplante, die grasperk, binnenshuise plante en potplante word bespreek.

• Basiese maar tog belangrike tuintake en vaardighede soos rose snoei, kunsmistoediening, saad saai en meer word stapsgewys in inligtingkassies bespreek.

• Grondvoorbereiding, water gee en voeding van die tuin is van kardinale belang en word kortliks en op ’n eenvoudige wyse verduidelik sodat enigeen die raad kan volg.

• Dit bevat ’n geïllustreerde gids tot die algemene peste en siektes en die behandeling daarvan.

• Daar is pragfoto’s van die onderskeie seisoene se trefferplante oor ’n dubbelblad – nie net vir inspirasie nie, ook vir vooraf beplanning vir kleur in die tuin, reg deur die jaar.

• ’n Algemene tuinplantlys agter in die boek bevat hope inligting in die vorm van simbole oor die vereistes en gebruike van die meer as 300 plante vermeld in die boek.

• Die skoon, lesersvriendelike uitleg en pragtige kleurfoto’s en illustrasies maak die boek ’n plesier om te lees en te gebruik.

Die boek is beskikbaar by Briza Publikasies. Besoek gerus www.briza.co.za vir meer inligting.

Back to top button