Local newsMunicipalNews

Groot gejuig ná inwoners stryd teen kragvoorsiener wen

Inwoners van West Village het na maande se gesukkel om kop bo water te hou die stryd gewen om hulle voorafbetaalde meters terug te kry.

Die inwoners van West Village sê hulle het die stryd gewen en sal hulle voorafbetaalde meters binnekort terughê.

Inwoners John Barnardt, sy vrou Cindy, Eric van Lelyveld en Samantha Cullingworth het met die news gesels en verduidelik dat danksy die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) se ingryping kon hulle kry waarvoor hulle reeds maande lank baklei.

Die kragvoorsiener West Rand Power Distributors (WRPD), wat ingevolge ‘n lisensie van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) bedryf word, het in Maart vanjaar die voorafbetaalde meters wat volgens die inwoners vir hulle goed gewerk het, met konvensionele meters vervang.

Dit het daartoe gelei dat inwoners onbekostigbare rekeninge ontvang het.

Barnardt sê indien hulle nog hulle voorafbetaalde meters gehad het, sou dit nie gebeur het nie, want as hulle nie vir krag kon betaal nie, sou dit self afgegaan het.

“Nou het mense elektrisiteit gebruik omdat dit daar was en wanneer die rekening nie betaal kan word nie, word die elektrisiteit afgesny. Dan kos dit nog ekstra vir heraansluiting.”

Michael Gladwin verduidelik voor hulle hul kos buite op 'n vuur moes gaarmaak het hulle dit op 'n gasstofie gedoen totdat die gas klaar geraak het.
Michael Gladwin verduidelik voor hulle hul kos buite op ‘n vuur moes gaarmaak het hulle dit op ‘n gasstofie gedoen totdat die gas klaar geraak het.

Michael Gladwin en sy gesin is reeds vir twee maande sonder elektrisiteit en sê ten spyte daarvan kry hulle steeds ‘n rekening.

Met trane in sy oë en emosie in sy stem het Gladwin verduidelik dat hy ook onlangs sy werk as motorwerktuigkundige kwyt is.

“Hoe moet ek vir my vrou en drie kinders sorg? Ek wil vir hulle ‘n beter lewe gee, maar ek kan nie.”

Hy sê waar hulle voorheen kos op ‘n gasstofie gemaak het, is hulle nou genoodsaak om kos buite op ‘n vuur te maak. Die uitgebrande kole en ‘n swart gebrande pot getuig hiervan.

Sy vrou Alison sê hulle moet maar die sweet onder ‘n koue stort afwas en in die bietjie lig wat snags van ander inwoners se huise af by haar huis inskyn na die badkamer en elders in die huis stap.

Alison Gladwin sê sy moet in kerslig onder 'n koue stort saans die sweet afwas.
Alison Gladwin sê sy moet in kerslig onder ‘n koue stort saans die sweet afwas.

“Ons het omtrent alles wat van waarde is verkoop om net vir die elektrisiteit te betaal. Hier is niks meer om te verkoop nie – ek weet nie meer wat om te doen nie,” sê Gladwin.

Barnardt sê om hierdie rede was dit noodsaaklik om die probleem onder die aandag van die EFF te bring omdat hulle glo reeds maande lank sukkel om antwoorde van ander politieke partye te kry.

Hulle beplan om tydens ‘n vergadering met al die rolspelers insluitend die munisipaliteit en WRPD hulle stem dik te maak oor die beoogde voorafbetaalde meters wat nou herinstalleer gaan word.

“Ons sal besluit of die sisteem wat aan ons voorgestel gaan word, vir ons gaan werk of nie en as ons dink dit gaan nie werk nie sal ons beswaar aanteken.”

Hy sê hulle gaan ook die reg hê om te kan sê of hulle met WRPD se diens tevrede is.

“As ons nie met hulle tevrede is nie sal ons kan aandring op ‘n ander kragvoorsiener.”

Die Gladwin-gesin moet deesdae hulle kos buite op die vuur maak nadat hulle elektrisiteit sowat twee maande gelede reeds afgesny is. Van links is Jean-Pierre, Alison, Michael en Justin.
Die Gladwin-gesin moet deesdae hulle kos buite op die vuur maak nadat hulle elektrisiteit sowat twee maande gelede reeds afgesny is. Van links is Jean-Pierre, Alison, Michael en Justin.

Oor die straatligte wat nie werk nie, sê Van Lelyveld dat die munisipaliteit uiteindelik onder druk geswig het en erken het dat WRPD glo daarvoor verantwoordelik is.

“Aangesien WRPD die kragvoorsiener is moet hulle ook die straatligte en -lampe in stand hou en seker maak dat daar elektrisiteit daarvoor is.”

‘n Muntoutomaat gaan glo ook by verskeie punte gplaas word sodat inwoners makliker elektrisiteit kan aankoop tydens ure wat vir hulle gemakliker is.

Barnardt sê die nuwe voorafbetaalde meters lyk sover vir hulle na ‘n baie beter opsie en sê dat dit daarmee moeiliker gaan wees om elektrisiteit te steel.

“Totdat almal wat hulle meters wil terughê dit nie terug het nie, sal ons nie ophou daarvoor baklei nie.”

Verwante artikels:

• Mogale City kan nie help, sê DA

• Meters gaan bly al kla inwoners

• Video: EFF wil glo inwoners help

One Comment

  1. SKANDE DAT EK OOK DA GESTEM HET. HULLE DEUR HULLE PATETIESE RAADSLID DOEN NIKS VIR ONS IN WEST VILLAGE NIE. KYK HOE LYK ONS PAAIE, DIE VULLIS Lê DIE WêRELD VOL. MATHYS JY IS SEKER NIE TROTS OP HIERDIE GEDEELTE VAN JOU WYK NIE. MAAR DIE VILLAGE IS NOG ALTYD AFGESKEEP EN EK WEET EK BLY AL 14 JAAR HIER. MATHYS LIG JOU, VERDIEN JOU GELD EN BRING TROTS NA JOU WYK-AFDELING. JY HET ‘n VERANTWOORDELIKHEID TEENOOR JOU KIESERS, OF JY DIT WIL ERKEN OF NIE. DOEN IETS!! DIE VOLGENDE MUNISIPALE VERKIESING IS OM DIE DRAAI!!!!!!!!!!

Back to top button