Local newsNews

Nog nader aan die Mnr SA-titel

Armand du Plessis van Ruimsig is onder die Top 25 in die Mnr Suid-Afrika-kompetisie.

Armand du Plessis is nou nog nader aan sy droom om as die Wes-Rand se eerste Mnr Suid-Afrika gekroon te word.

Vroeg in die kompetisie was hy reeds positief oor sy pad vorentoe en reken sy sukses tot dusver kan toegeskryf word aan harde werk.

“Ek was nog altyd ‘n harde werker en het regdeur die kompetisie die ekstra myl gestap met als wat ek aangepak het,” sê hy.

“Harde werk word beloon en daarom het ek geweet ek sal die vrugte daarvan pluk. Die aankondiging van die Top 25 getuig daarvan en dit motiveer my om nog harder te werk om na die volgende rondte deur te dring.”

Die 12 finaliste sal op 12 Desember tydens ‘n spoggeleentheid hoor wie die titel as Mnr Suid-Afrika gaan dra.

“Ek wil graag dié titel verower maar indien dit nie so uitwerk nie sal ek steeds gelukkig wees,” sê Du Plessis heel beskeie.

“Die kompetisie het my baie wyser gemaak en verryk, en sal beslis ‘n hoofstuk in my lewe wees wat ek vir altyd sal onthou.”

Hy vertel dat hy sowat sewe jaar gelede die idee gekry het om eendag vir die kompetisie in te skryf en kan nie glo dat hy reeds so ver gevorder het nie. Vir hom is die kompetisie baie meer as om net die titel te dra.

“Dit gaan vir my daarom dat dit as ‘n platform gebruik kan word om ‘n baie groter en positiewe verskil in die gemeenskap te maak. Ek hoop ek sal ander deur my storie inspireer om in hulle drome te glo en dit nooit prys te gee nie.”

Oor die bystand wat hy van die gemeenskap van die Wes-Rand ontvang, sê hy dat hy nie vir beter ondersteuning kon vra nie.

“Ek is self ‘n trotse Wes-Rander en hoop om met die hulp van die gemeenskap van die Wes-Rand hulle eerste Mnr Suid-Afrika op te lewer. Baie dankie aan elkeen se ongelooflike ondersteuning!”

Op die oomblik word al 25 deelnemers se vermoë vir 100 dae lank beproef. Hulle moet elke dag ‘n bepaalde taak suksesvol voltooi.

“Ons moes onder ander ‘n video van 30 sekonde maak waar ons uit ons gemaksone moes klim en ‘n verskil in ‘n ander mens se lewens maak.”

Oor die ander mededingers in die kompetisie sê hy dat hulle reeds vir hom soos broers is.

“Ons is een groot familie en ons deel ons kennis met mekaar. Elkeen werk baie hard en verdien ook die Mnr Suid-Afrika-titel.”

Ten spyte daarvan dat hy min slaap kry en baie hard moet werk is hy nog nie een keer spyt dat hy die geleentheid aangegryp het om in te skryf nie.

Om Du Plessis te help om na die volgende rondte deur te dring kan daar steeds vir hom gestem word deur die woord MRSA 008 na 47439 te SMS. Elke SMS kos R3.

Related articles:

Armand the next Mr SA?

Komberse met ‘n tikkie warmte en liefde

Back to top button