Motorskou vir liefdadigheid
Die vierde Goodwill Run is by President Hyper gehou en groei elke jaar, sê die organiseerders.
Die vierde suksesvolle Goodwill Run is gister (13 Julie) gehou waartydens kos en komberse vir die Mug & Tree Gemeenskapsentrum ingesamel is.
Hierdie fondsinsameling is deur die Centenary Car Club in samewerking met President Hyper gehou om die gemeenskap die geleentheid te gun om na ‘n paar meganiese pragstukke te kyk asook om hulle harte vir behoeftige mense oop te maak.
Meer as 400 motors het ‘n staanplek gekry waar duisende mense daarna kon kyk, dit bewonder en selfs foto’s daarvan neem.
Die organiseerders van die motorskou sê hulle was reeds van 6vm af hard aan die werk om als vir die dag gereed kry.
“Ons ondersteun elke jaar ‘n ander organisasie in Krugersdorp omdat die gemeenskap soveel vir ons doen,” sê Herman Pienaar.
Hy sê dit is vir hom lekker om te sien hoe die Goodwill Run elke jaar net groter word.
“Die ondersteuning wat ons kry is fantasties! Dit is verblydend dat soveel mense die dag saam met ons spandeer en geniet.”
Die Goodwill Run se Motorskou sal weer volgende jaar terug wees.
Vir meer foto’s besoek www.krugersdorpnews.co.za.