Local newsNews

Koop ‘n stukkie herinnering by Fora se winkel

Terselfdertyd help kopers dat die diere by dié diereskut 'n beter lewe kan hê.

‘n Ietsie vir ‘n ieder en ‘n elk.

Dit is wat ‘n mens by die Friends of Rescued Animals (Fora) se winkels in Vierdestraat, Krugersdorp-Noord sal kry.

By die verskeidenheidswinkel skuins oorkant die Bonanza Spar is die susters Innocentia (24) en Pauline Mhleni (37) elke dag op hulle pos om klante of diegene wat goedere wil skenk met ‘n glimlag te verwelkom.

“Ons werk albei reeds vier jaar lank hier en geniet dit vreeslik. Ons raak net bekommerd wanneer ons sien mense ondersteun nie die winkel soos ons hoop nie,” sê Innocentia.

'n Mens moet 'n ornament in jou huis hê, meen Innocentia Mhleni, winkelassistent by Fora se verskeidenheidswinkel in Vierdestraat, Krugersdorp-Noord.
‘n Mens moet ‘n ornament in jou huis hê, meen Innocentia Mhleni, winkelassistent by Fora se verskeidenheidswinkel in Vierdestraat, Krugersdorp-Noord.

“Maar wanneer die mense kom, is dit altyd kombuisware en meubels wat vinnig nuwe eienaars kry.”

Alles wat in hierdie winkel te koop aangebied word is skenkings van die publiek. Al die wins word gebruik vir die huur van die winkel, salarisse en die vierpotige vriende wat by Fora tuisgaan.

Dit is omtrent ‘n winskopieparadys waar goedere van so spotgoedkoop soos R0,50 te koop is.

Daar is kombuisware, Afrika-beelde, kaartjies, legkaarte, video’s, CD’s, muurprente, elektroniese ware, klere en skoene, meubels en ornamente. Elke persoon moet ‘n ornament in hulle huis hê, groot of klein. Ek glo nie dat dit net stof opgaar nie,” keer Innocentia gou.

Sy en Pauline sê hulle koop ook graag goedere by dié winkel, veral klere.

Fora se winkel in Vierdestraat, Krugersdorp-Noord het 'n verskeidenheid goedere te koop.
Fora se winkel in Vierdestraat, Krugersdorp-Noord het ‘n verskeidenheid goedere te koop.

“Hier is regtig baie mooi klere, baie van die klere is nie eens gedra nie en het nog die pryskaartjie aan,” sê sy terwyl sy voorbeelde daarvan uitwys.

“Mense kan enigiets hier kry. Baie keer is hier dinge wat ‘n mens nie meer te koop kry nie en waarmee jy grootgeword het – dit is dan ‘n stukkie herinnering wat jy kan terugkoop, want dit was dalk iets wat in jou ouma se huis gestaan het.”

Innocentia en Pauline sê hulle is baie trots op hulle werk, veral omdat hulle ‘n verskil in die lewe van diere kan maak.

Oorkant die straat is Fora se boekwinkel waar boeke ook spotgoedkoop gekoop kan word.

‘n Boekeaand word vir 28 Mei beplan en enigiemand wat belangstel om dit by te woon kan vir Julie Wasserman by 076 771 5480 kontak.

Afrika-beelde word spotgoedkoop aangebied.
Afrika-beelde word spotgoedkoop aangebied.

Back to top button