Local newsNews

Sektor 3 GPF bou voort op suksesse

Die Sektor 3 Gemeenskapspolisiëringsforum is trots op al die gemeenskapswerk wat hulle tot dusver gedoen het.

Die Sektor 3 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het reeds ‘n baie bedrywige jaar agter die rug en beplan ook nog baie projekte vir die jaar wat voorlê.

Rinie Oosthuizen, skakelbeampte van dié sektor verduidelik wat hulle tot dusver aangepak het.

Op 18 Januarie het die patrollie- en gemeenskapslede bejaardes met gestremdhede se erwe vir hulle gaan skoonmaak deur die bome te snoei en uit te dun, en die gras te sny sodat die tuine weer netjies kon lyk.

Een van hulle lede het voer vir sy beeste nodig gehad en met almal se hulp kon hulle ‘n bedrag geld insamel om voer te koop, wat daartoe gelei het dat nog skenkings van voer bygekry is.

“‘n Boer in Tarlton het koolkoppe aan ons geskenk en ‘n groepie van ons het die koolkoppe op sy plaas gaan afsny.”

Verskeie radio’s is ook aan die Môreglans Ouetehuis, Theodore Huis vir Bejaardes en La Reynette Sorgsentrum geskenk.

“Ons het van Theodore Huis vir Bejaardes te hore gekom en die eienaar gaan besoek. Ons het ‘n radio aan hulle geskenk en verneem dat van hulle inwoners in April op ‘n seevakansie gaan, daarom het ons besluit om hulle te help,” sê Rinie.

Sy sê groot en opwindende projekte word nog vir hierdie jaar beplan en sê dat sy baie opgewonde daaroor is.

“Ons doel is om vir die mense te wys dat ons nie net daar is vir misdaadbekamping nie, maar dat ons as ‘n gemeenskap kan saamstaan en mekaar en andere kan help.”

Sy bedank graag Sektor 3 se patrollielede vir al hulle opofferings.

“Hulle is altyd bereid om te help en sit vreeslike lang ure vir die gemeenskap in.”

Back to top button