Local newsNews

Rocco bekoor gehoor met musiek en staaltjies

Hy sê dit is steeds vir hom 'n wonderwerk dat mense geld betaal om te sien hoe hy klavier speel.

Van die oomblik af toe sy vingers die klawers begin streel het, het die bekroonde pianis Rocco de Villiers sy gehoor by The Grill Shop in Noordheuwel in sy sak gehad.

Selfs al het hy nie al sy bekendste en sommige van sy nuwe liedjies op sy jongste album Countrykeys op ‘n klavier uitgevoer nie, was die klanke wat hy op die elektroniese sleutelbord opgetower het, meer as voldoende.

Oud en jonk het die aand van 29 Maart heerlike etes van die spyskaart af bestel en dit in Rocco se geselskap geniet.

Rocco skerts dat dit steeds vir hom ‘n wonderwerk is dat mense geld betaal om te sien hoe hy klavier speel.

Rocco de Villiers het die klawers gestreel.
Rocco de Villiers het die klawers gestreel.

Tussen al die liedjies deur het hy staaltjies vertel oor sy kinderjare, begindae as pianis en waar hy inspirasie kry om sy liedjies te komponeer.

“Ek gaan gereeld terug Harrismith toe, want daar raak ek weg in ‘n wêreld van my eie. So het ek al dikwels inspirasie vir my liedjies uit dinge gekry wat ek op die plaas en in die dorp beleef het.”

Rocco onthou die dag toe hy die eerste keer boeremusiek op ‘n troue in die plaaslike gemeenskapsaal gespeel het.

“Almal in die dorp het geweet dat ek ‘n goeie pianis is en ek het maar altyd troues bygewoon en dan saam met ander musikante musiek gemaak waarop die mense gedans het. My pa, wat die banjospeler was, het my ook baie oor boeremusiek geleer.”

Met 11 albums op sy kerfstok, verskeie toekennings en jare se ondervinding in die musiekbedryf bly dit steeds vir hom ‘n groot voorreg om musiek te maak vir almal wat daarvan hou.

Hy vertel dat sy agtste album Beautiful Beautiful Piano sy spesiaalste produk is omdat hy dit aan sy oorlede ma opdra.

“Maar Countrykeys is die lekkerste album waaraan ek nog in die ateljee gewerk het. Al die instrumente is in die ateljee gespeel.”

Rocco de Villiers, 'n bekroonde pianis het The Grill Shop in Noordheuwel besoek waar hy gaste met sy klaviervernuf betower het.
Rocco de Villiers, ‘n bekroonde pianis het The Grill Shop in Noordheuwel besoek waar hy gaste met sy klaviervernuf betower het.

Die NUUS het ‘n kompetisie op die webblad gehad waar lesers ‘n vraag korrek moes beantwoord om in aanmerking te kom om Rocco se jongste album Countrykeys, met sy handtekening daarop te wen.

Die gelukkige lesers is Jessie van den Berg (50) van Westonaria, Nikolene de Buys (30) van Monument, Alby van Zyl (73) van Silverfields, Poppie Ernst van Witpoortjie en Elna Watts (60) van Lewisham.

Verwante artikel:

• Bekroonde pianis tree op

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button