LettersOpinion

OPINIE: Hy het plek vir jou

Kom nederig voor God en vertrou Sy plan vir jou lewe – pastoor.

• Pastoor Kyle Tolman, Cross Connect Community Outreach (CCCO) se uitvoerende hoof skryf:

Deur die jaar het ons die geleentheid om so af en toe met vakansie te gaan. Lank voor ons met vakansie gaan is daar heelwat wat moet gebeur. Ons moet besluit waar ons gaan en gewoonlik vra ons: Wil jy see toe gaan of wil jy bos toe gaan?

Dan begin jy soek vir akkommodasie in jou gekose area. Daar is verskeie oorwegings:
• Grootte van jou familie en hoeveel kamers jy nodig het.
• Die gemak van jou akkommodasie.
• Vir hoe lank jy gaan bly?
• Wat jy uit die vakansie soek?
• Hoeveel jy bereid is om te betaal.

Al hierdie vrae moet beantwoord word sodat jy presies weet wat om voor te kyk.

Toe God vir Jesus gestuur het, het Jesus nie gekom om vakansie te hou nie maar om te kom werk sodat ons die ewige lewe kon kry. Jesus het presies geweet wat sy doel op aarde was. Alles was fyn beplan.

Jesus het geweet hoe groot God se familie was. Hy het geweet dat almal vergifnis nodig gehad het. Die plek van sy geboorte was alles behalwe gemaklik. Soos Sy lewe aangegaan het Hy bitter min gemak beleef. Inteendeel, die mense wat hom moes verwelkom wou hom stenig en die grootste sondaars wou net aan Sy kleed raak. Daar is ‘n les vir ons in hierdie gelykenis …

Kom nederig voor God en vertrou Sy plan vir jou lewe. Nader aan God en soek hom met al jou weë. Lewe asof daar nie ‘n môre gaan wees nie. Vertel mense van die goeie nuus van Jesus Christus. God het nie net vir jou ‘n plek voorberei nie maar ook vir die mense rondom jou. Hoe sal hulle weet as niemand hulle vertel nie?

Deur Jesus se kruisiging, dood, opstanding en Hemelvaart het Hy vir ons plek gemaak. Die prys was duur. Niks wat ons ooit kan doen sal maak dat ons dit kon bekostig nie. God was bereid om Jesus se hele lewe op te offer sodat ek en jy die ewige lewe kon kry.

Jesus het vir ons ‘n weg gemaak. Mag jy vandag nader tree aan God en weer onthou dat Jesus die middelpunt van jou lewe moet wees.

Back to top button