School sportSport

Wat ‘n derby! Wit Bulle byt vas teen vasberade Nories

Monnas het 11 uit sy 14 ligawedstryde in die Noordvaalbekerkompetisie vir makroskole teen Nories in hul derbystryd in Monument gewen. Die eerstes moes wel vasbyt om 33–29 te seëvier.

Hoërskool Monument sal vir ‘n ruk breëbors kan rondloop na sy derbystryd teen sy aartsvyand Hoërskool Noordheuwel op Saterdag, 13 Augustus.

Die derby het alle verwagtinge oortref met albei skole se rugbyseuns wat tydens hul ligawedstryde in die Noordvaalbekerkompetisie vir makroskole alles gegee
het. Vyf van die twee skole se spanne was op Vrydag, 12 Augustus in aksie, gevolg deur nog nege kragmetings op Saterdag, 13 Augustus. Dit was boonop een van die grootste skolekragmetings wat die dorp nog beleef het sedert die pandemie ons geliefde skolerugby gekniehalter het.

Daar was Saterdag nie plek vir ‘n muis nie en mens was gelukkig as jy op ‘n kolletjie gras langs die kantlyn kon plek kry. In die 14 kragmetings oor die twee dae was Nories twee keer aan die wenkant terwyl Monnas 11 keer geseëvier het. Een wedstryd was gelykop, maar die gasheer het die laaste sê gehad toe sy eersterugbyspan (die Wit Bulle) naelskraap met 33–29 geseëvier het. Die rustydtelling was 19–10 in Monnas se guns.

Morne Venter, Wit Bulle-flank storm voort.

Dit was aan die begin van die wedstryd tussen die Wit Bulle en Nories duidelik dat die senuwees geknaag het aangesien albei spanne talle hanteerfoute in die eerste 10 minute begaan het. Nories het wel die eerste slag geslaan toe hulle eerste gaan druk het na ‘n puik binnetoe-aangee wat die Monnas-verdediging geflous het. Monnas het net daarna teruggeslaan het met ‘n goeie drie nadat die Wit Bulle geweldig druk toegepas het. Dit het iets in hulle wakker gemaak want ‘n golf van aanvalle en fases het Nories getref wat tot die gasheer se tweede drie gelei het.

Xander Schoeman, Wit Bulle-agsteman met die bal.

Met net sewe minute in die eerste helfte oor het Nories pale toe te korrel om drie punte by sy telling te voeg. Met die telbord op 12–10 in Monnas se guns het die gasheer net voor halftyd weer gaan druk na ‘n puik lynstaan, agterlynbeweging en ‘n kort deurskoppie wat goed afgerond is.

Die tweede helfte het basies nes die eerste begin met albei spanne wat half skrikkierig was om foute te maak. Met die wind nou agter hulle was Monnas se wedstrydplan duidelik, naamlik om in Nories se gebied te bly, maar Nories het ander planne gehad – om met die bal te hardloop. ‘n Puik Nories-skrum was die grondslag vir hul tweede drie en met 17 minute oor het die wedstryd vlamgevat met Monnas ‘n kortkop voor met 19–17. Monnas het toe self begin hardloop en twee vinnige drieë gedruk. Mens sou dink dat die skrif aan die muur was, maar Nories het aanhou veg. Met agt minute oor duik Nories se vleuel oor nadat hy die bal opgepik het van ‘n deurskoppie oor Monnas se koppe. Spel is toe opgehou nadat ‘n speler van Monnas op die spanlys bevraagteken is. Die skare, veral die Nories-ondersteuners het begin skreeu ‘Stop die tyd, stop die tyd!’.

Keaton van Deventer, binnesenter van Nories duik oor vir sy drie.

Monnas moes in die doodsnikke vasbyt nadat Nories se gevaarlike buitesenter oorgegaan het vir sy briljante drie. Die doelskop was suksesvol en die telling het aangeskuif na 33–29. Nories het toe nog een laaste kans gehad om ‘n haas uit die hoed te pluk en ‘n opskudding te veroorsaak, maar die tyd het hulle ongelukkig ingehaal.

Marshall de Vos, buitesenter van Nories duik oor vir sy drie. Marshall het ook tot op hede die meeste drieë in die kompetisie gedruk.

Wit Bulle-afrigter Tjaart van der Walt het na die wedstryd gesê dit was nie maklik om so ‘n belangrike wedstryd te speel nadat hulle net die week tevore drie opvangwedstryde moes speel nie.

“Ons het drie wedstryde in ‘n week gespeel en dit sal altyd moeilik wees om voor so ‘n derby jou spelers se lading te bestuur. Die stryd was soos te verwagte ‘n taai tradisionele derby met manne van albei skole wat alles gegee het. Dit is nietemin ‘n job well done. Dit was ons laaste ligawedstryd en die doel was om onoorwonne en bo aan die liga te eindig, wat ons gedoen het.

Dis hoe baie dit beteken! ‘n Norie-leerder juig nadat sy skool se eerstespan in die doodsnikke gaan druk het.

WP Laidlaw, Nories se adjunkhoof van sport het gesê, “Een of twee beslissings was ongelukkig nie in ons guns nie maar albei eerstespanne het goeie en harde rugby opgedis. Ons seuns het beslis opgedaag en gewys ons hoef nie terug te staan vir enige skool in die land nie. Nories kan trots wees op die goeiegehalte-rugby wat vandag teen toon gestel is. Al ons A-spanne het gekwalifiseer vir die uitspele en dit spreek boekdele.”

Die moontlikheid is boonop nie uitgesluit dat die twee skole weer kan swaarde kruis vir die titel nie, aangesien albei die halfeindrondte gehaal het.

Kelvin van Wyk, Wit Bulle-vleuel snol by die kantlyn af.

Die bepalings vir 20 Augustus:
Monnas:
• o.14A teen Noordheuwel (tuis)
• o.16A teen Helpmekaar (weg)
• Eerstespan teen EG Jansen (tuis)

Noordheuwel:
• o.14A teen Monnas (weg)
• o.15A teen Menlopark (tuis)
• o.16A teen EG Jansen (weg)
• Eerstespan teen Garsfontein (weg)

Volledige uitslae van die afgelope naweek se kragmetings:

• o.14A: Monnas wen 12–8
• o.14B: Monnas wen 45–3
• o.14C: Monnas wen 73–0
• o.15A: Noordheuwel wen 14–10
• o.15B: Monnas wen 24–17
• o.15C: Monnas wen 55–7
• o.16A: Gelykop 19-elk
• o.16B: Monnas wen 14–7
• o.16C: Monnas wen 47–5
• Vyfdespan: Monnas wen 22–7
• Vierdespan: Monnas wen 31–22
• Derdespan: Monnas wen 43–0
• Tweedespan: Noordheuwel wen 17–12
• Eerstespan: Monnas wen 33–29

You can read the full story on our App. Download it here.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Check Also
Close
Back to top button