Local newsNewsSchools

Sleepwaens vol bederf vir Mug and Tree

Mug and Tree kleuterskool ontvang 'n vrag vol donasies.

Met behulp van vriende, familie en die gemeenskap het twee goedhartige susters, Cindy Sickels en Angie Oosthuizen, ‘n vrag vol goedere aan die Mug and Tree Kleuterskool in Krugersdorp-Wes geskenk.

Die donasie, wat op 24 Mei oorhandig is, bestaan uit 30 matrasse en kussings, gemengde graankosse, pakkies gemaalde soja, blikkieskos, verskillende geure sop, toiletware, skoene, klere en opvoedkundige speelgoed.

“Ons het ook genoeg opvoedkundige toerusting ontvang om vir die kinders klasse te kan aanbied. Ons doel hiermee is om die kinders vir skool voor te berei,” sê Cindy. Sy het gereageer op Mug and Tree se noodkreet wat onlangs op 94.2 Jacaranda FM se oggendprogram uitgesaai is. Elke kind het ook ‘n bederfhouer met klere, skoene en speelgoed ontvang om saam huis toe te neem.

‘n Sak met kos vir hulle gesin vir die naweek is ook aan elke kind uitgedeel.

“Ons het van Mug and Tree oor die radio gehoor en besluit om in te gryp,” vertel Cindy en Angie aan die NUUS.

‘n Badkamersakkie met verskeie toiletware is ook aan elke kind geskenk. Dit sal by die skool gehou word sodat die kinders dit daar kan gebruik. Daar is ook ‘n ekstra houer vol klere en skoene wat by die skool gehou sal word om te sorg dat die kinders warm aangetrek is op die koue wintersdae wat nog voorlê.
Die kinders sal ook binnekort ‘n gratis besoek van ‘n plaaslike tandarts sowel as ‘n oogarts ontvang.

“Ons sê dankie vir die gemeenskap en maatskappye wat betrokkenheid getoon het deur middel van donasies en borge; julle weet wie julle almal is.”

Kinders van Mug and Tree Kleuterskool staan gereed om  geskenkte lekkers te ontvang.
Kinders van Mug and Tree Kleuterskool staan gereed om geskenkte lekkers te ontvang.

Die barmhartige susters wil die gemeenskap van Krugersdorp aanmoedig om by die wonderlike organisasie betrokke te raak deur middel van donasies, of as vrywilliger om hulp te verleen met die aanbieding van die opvoedkundige klasse.

Vir meer inligting kontak gerus vir Angie by 071 679 3703 of Cindy by 076 689 3755.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button