Editor's choiceLocal newsNews

[OPVOLG] Ek is super jammer!

Meneer Emmertjie het vir die News gesê hy weet dat dit wat hy gedoen het, verkeerd is en dat hy baie jammer is.

Is dit vir Meneer Emmertjie te laat om vir die gemeenskap om verskoning vir sy gedrag te vra?

Lees oorspronklike atrikel hier: Wie is die ’emmertjie’-man wat motoriste teister

Jacques van Vuuren is gelukkig met wat hy doen en wil graag die gemeenskap vermaak.

Die News het onlangs ‘n artikel op sy webwerf gepubliseer oor ‘n man wat bekend staan as Meneer Emmertjie wat by verkeersligte motoriste nader om hul motors te was. Hy swerf van verkeerslig tot verkeerslig in Krugersdorp en Roodepoort. Bekommerde motoriste het egter die News ingelig dat hy aggressief raak en kru taal teenoor hulle gebruik as hulle sy dienste van die hand wys.

Nadat die artikel gepubliseer is, het dit op sosiale media gegons oor dié man se aggressie en onvanpaste taal. Op Facebook het meer as 100 lede van die gemeenskap kommentaar gelewer oor die man se doen en late, en die reaksie teenoor hom was glad nie positief nie.

Video aan ons gestuur deur Schalk Bossert:

“Hy dwaal rond tussen 12uur in die nag en 5vm in die oggend en vloek mense as hulle hom nie wil help nie. Hy het al vir een vrou gesê hy gaan haar en haar dogter doodmaak omdat sy hom nie wou toelaat om haar motor te was nie. Daardie man maak almal net boos met sy swak gedrag en swak taalgebruik,” het een vrou gesê.

Kort nadat die artikel gepubliseer is, het ‘n onbekende vrou die News laat weet waar dié man hom bevind. Joernalis Nadine Maré is soontoe om sy kant van die saak te kry. Die News het vir Jacques van Vuuren, 29, met sy blou pak en emmer by ‘n winkelsentrum in Wilropark aangetref.

“Ek is super jammer. Kan julle vir die gemeenskap sê dat ek werklik jammer is oor wat ek gedoen het, ek was verkeerd,” het Jacques gesê.

Jacques het erken dat hy motoriste gevloek het en hom onvanpas gedra het. Hy het ook vertel dat hy nie op ‘n goeie plek in sy lewe was nie en dat dit nie met hom goed gegaan het gedurende die tydperk wat hy op straat gebly het nie. Hy het ook erken dat hy nou hulp van ‘n onbekende persoon ontvang en dat hy van ‘vandag’ af ‘n beter persoon sal wees.

“Ek wil eintlik net die gemeenskap by verkeersligte vermaak. Die lewe is ernstig genoeg en mense moet glimlag,” het Jacques gesê.

Hy het wel familie, maar volgens hom het hulle nie ‘n goeie verhouding nie.

Hy het ook bevestig dat hy graag mense se motors wil was omdat dit hom gelukkig maak. Hy het ook gesê dat hy nie geld of kos van die gemeenskap wil hê nie, maar net dat motoriste hom sal toelaat om hul motors te was. Hy het ook aan die News gesê dat hy goeie kwaliteit skoonmaakmiddels en materiaal gebruik om die motors te was.

Hy bedank ook graag die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Sektor 4 vir hulle hulp en ondersteuning.

Jacques het vir die News van sy talent vertel en toestemming gegee dat ‘n video van hom gemaak word. Hy het daar en dan ‘n liefdesliedjie ‘gekomponeer’ en sy hart uitgesing. Hy het ook een liedjie ge-rap en gesê hy hoop dat iemand sy talent sal raaksien.

Sien sy video hier:

Toe die News hom oor sy toekomsplanne uitgevra het, het hy gesê dat hy graag ‘n rap-kunstenaar wil wees en mense wil vermaak.

Jacques beskou homself as onskadelik en het belowe dat hy van nou af nie meer die publiek onredelik sal behandel nie.

Jacques van Vuuren geniet dit om motors te was.

Lees ook

Havelose vriende mekaar se genade

Bedelaars skel jou as jy nie gee nie

Gewese bedelaar en verslaafde ‘n man duisend

Hoekom is Krugersdorp se bedelaars so verpletter?

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterwebtuistes: 

Randfontein HeraldRoodepoort RecordGet It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Back to top button