Editor's choiceLocal newsNews

Kersjoligheid vir Deo Gloria-kinders

"Ek was die soetste van almal," het een van hulle geskree met die hoop dat hy 'n groter geskenk sou kry.

Kersfees het vanjaar ‘n bietjie vroeër vir ‘n paar minderbevoorregte kinders van Krugersdorp gekom, en is hulle bederf!

Deo Gloria, ‘n bekende welsynsorganisasie, het Saterdag 10 Desember vir meer as 70 kinders sommer baie geskenke gegee – en die beste van alles, dit was goed wat hulle regtig nodig het.

Die bordjies in die Real Life Church het die kinders presies gewys waar hulle 'n elf kon opspoor.
Die bordjies in die Real Life Church het die kinders presies gewys waar hulle ‘n elf kon opspoor.

Die mat onder die Kersboom in die Real Life Church was toegepak met helder gekenkpakkies waarop die Kersliggies weerkaats het. Die dak van die saal het soos ‘n diamant geskitter soos die liggies daarop geval het. Die kindertjies wat eers oral rondgehardloop het, het rustiger geraak en om Kersvader begin saamdrom om te hoor wat hy dié jaar gebring het.

“Ek was die soetste van almal,” het een van hulle geskree met die hoop dat hy ‘n groter geskenk sou kry.

Kersvader staan saam met sy feë en elwe voor die yslike hoop Kersgeskenke wat verskeie groothartige borge aan die kinders geskenk het. Voor sit die vriendelike Ollie die Nar.
Kersvader staan saam met sy feë en elwe voor die yslike hoop Kersgeskenke wat verskeie groothartige borge aan die kinders geskenk het. Voor sit die vriendelike Ollie die Nar.

Kersvader het ewe skielik ‘geskenktyd’ aangekondig en gesê die kinders moet by sy voete gaan sit. Een vir een het hy hulle nader geroep en vir hulle elkeen ‘n spesiale geskenkie en ‘n drukkie gegee.

By Kersvader se voete was ‘n warboel van geskenkpapier, klein lyfies en blink ogies.

Dillan Oosthuizen is verstom oor die groot hoop presente wat Kersvader vir hom en sy maats gebring het.
Dillan Oosthuizen is verstom oor die groot hoop presente wat Kersvader vir hom en sy maats gebring het.

Die kinders het elkeen ‘n paar pragtige Tommy-tekkies gekry sodat hulle dwarsdeur die Desember-vakansie buite kan speel sonder dat hulle voetjies seerkry.

Elkeen het ook ‘n badkamersakkie gekry met items waarmee hulle hulself mooi kan maak as hulle maats vir hulle in die vakansietyd kom kuier. Die kinders het ook lekkers, speelgoed en ander geskenke gekry voordat hulle bederf is met yslike pizzaskywe.

Kersvader het self 'n kans gekry om op een van die motorfietse te sit tydens die Kerspartytjie wat Deo Gloria-huis vir hul begunstigdes gehou het.
Kersvader het self ‘n kans gekry om op een van die motorfietse te sit tydens die Kerspartytjie wat Deo Gloria-huis vir hul begunstigdes gehou het.

Buite die saal kon jy later die enjins van motorfietse hoor brul soos verskeie motorfietsklublede by die kerkgronde ingery het. Die cool ooms met hul mooi motorfietse en leerbaadjies het speelgoed, lekkergoed en ander geskenke vir die kinders gebring.

“Wys jou net, bikers is dalk groot en sterk, maar eintlik is hulle harte bitter klein,” het Ilze Kruger, organiseerder van die geleentheid gesê.

Meer as vyf motorfietsklubs het hulle ondersteuning kom gee en een van die lede het tot vir Kersvader op sy motorfiets laat sit.

Lucinda Botha sit voor haar yslike groot geskenk wat Kersvader vir haar gegee het.
Lucinda Botha sit voor haar yslike groot geskenk wat Kersvader vir haar gegee het.

Ollie die Nar het toe vir vermaak gesorg en die kinders vir amper ‘n uur met grappies, toertjies en speletjies besig gehou.

Die Deo Gloria-groep kan nie genoeg dankie sê vir al die borge en ondersteuners nie.

“Dit was die perfekte manier om ons jaar af te sluit,” het Ilze gesê. “Ons is opreg dankbaar vir almal wat ons gehelp het om die kinders net voor Kersfees só te bederf.”

Verwante artikels:

• Brand? Nee dit is Kersvader!

• Delicious dishes on Mandela Day

• Sopkombuis ly verlies weens inbraak

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button