Local newsMunicipalNews

Hoekom drie weke om ongeluksrommel te verwyder?

Raadslid raadop na talle pogings om ongeluksrommel te verwyder.

‘n Plaaslike raadslid is raadop na rommel van ‘n onlangse ongeluk ‘n geruime tyd op ‘n besige pad agter gebly het.

Na herhaaldelike oproepe en twee besoeke aan die 107 noodsentrum en die Wes-Rand Distrikmunisipaliteit, het die rommel steeds op Voortrekkerweg bly lê.

Na talle probeerslae om die rommel te laat verwyder, bly dit onaanvaarbaar vir plaaslike Vryheidsfront Plus raadslid, Amanda de Lange.

“Die ongeluk het sowat drie weke gelede plaasgevind en sedert die insident was daar in daardie drie weke geen poging aangewend om dit op te ruim nie,” het De Lange gesê.

Volgens De Lange het sy uit moedeloosheid, omdat die 107 sentrum se fone eenvoudig nie beantwoord word nie, self soontoe gery om die kwessie aan te meld.

“Dit was opmerklik hoe die fone eenvoudig onbeantwoord bly lui tydens my besoek en die sowat sewe werkers ongestoord voortgaan met hulle kuier-sessie.

“Die beamptes wat na vele oproepe wel die telefoon beantwoord het, was uiters onbeleefd en duidelik geïrriteerd. Dit was vir my teleurstellend dat selfs ‘n persoonlike besoek aan die departement geen vrugte afgewerp het nie. Dit is kommerwekkend dat belastingbetalers in Mogale City streng verantwoordelik gehou word vir die betaling van hulle munisipale rekeninge en belasting maar dieselfde nougesetheid word nie deur die plaaslike owerhede gehandhaaf nie,” het sy gesê.

De Lange meen dat die swak en onbehulpsame houding van personeel wat met die publiek werk nie net beperk is tot die 107 sentrum nie.

Vele klagtes oor die personeel by die finansiële afdeling, waar inwoners hul rekeninge betaal, stroom ook gereeld by beide die raadslid sowel as die News-kantoor in.

“Inwoners is geregtig op die dienste waarvoor hulle betaal en oneffektiewe diens kan nie langer geduld word nie,” sluit De Lange af.

* Die News het opgemerk dat die ongeluksrommel intussentyd verwyder is.

Soortgelyke artikels: 

Mogale City jou morsjors!

Morsjorse maak inwoner bekommerd

Beskerm óns geskiedenis, eis VF+

Back to top button