Editor's choiceLocal newsMunicipalNews

Kollege kos studente hul toekoms

Die Vryheidsfront Plus se vrouekomitee gaan ’n dringende ondersoek aanvra rondom die kwaliteit en suksesse van kolleges regoor Gauteng.

Studente by die Westcol Kollege in Krugersdorp-Wes se toekomsdrome word na elke eksamen wat hulle skryf verwoes.

“Klagtes van swak administrasie en aantygings van wanbestuur by dié kollege het ’n werklikheid geword toe my eie seuns en vriende se kinders wat hier ingeskryf is, self bedroë daarvan afgekom het,” het Amanda de Lange, Wes-Rand streeksleier en nasionale voorsitter van die vrouekomitee van die Vryheidsfront Plus gesê.

Volgens De Lange word die lys klagtes wat intussen aangemeld is, al hoe langer.

“Studente se punte is ’n totale gemors en nie hulle of hul ouers het iets om te wys vir hul studies by die kollege nie. Ek moes in Augustus noodgedwonge die minister van Onderwys, Blade Nzimande se kantoor skakel om in te gryp nadat ’n amptenaar my seun vir ’n verkeerde eksamenvak geregistreer het. Ek het by die hoof gaan kla, maar hy het net sy skouers opgetrek. Ons het hulle in Junie reeds versoek om die fout reg te stel, maar sonder reaksie.”

Sy meen die argelose houding van Westcol Kollege se bestuur is skokkend en die feit dat daar geen aksie van hoër gesag is om die probleme aan te spreek nie, hou geen hoop vir studente in nie.

Hierdie klagtes is nie beperk tot een of twee studente nie. Jongmense stap hier in met ideale en toekomsdrome. Dit word egter verwoes nog voordat hulle ’n kans gehad het om hulself aan die buitewêreld te bewys deur blote swak administrasie en onbevoegde bestuur.

De Lange het voorts gesê die Vryheidsfront Plus se vrouekomitee gaan ’n dringende ondersoek aanvra rondom die kwaliteit en suksesse van kolleges regoor Gauteng. Daar word vir ’n geruime tyd reeds in die media berig oor die ontoereikende standaard van onderwys in Suid-Afrika.

Ouers wat klagtes het oor wanpraktyke van kolleges kan dit aanmeld by help@vfplus.org.za.

Hierdie klagtes sal gedokumenteer en deurgegee word aan die Gauteng se Departement van Onderwys vir volledige ondersoek.

Verwante artikels:

• Chaos erupts at Westcol

• Providing mercy for orphanage

• Students receive free quality health care

Back to top button