LettersOpinion

Hoekom word ons so stief behandel?

Mariette Smith van Krugersdorp skryf:

Ek het ’n 11-jarige seun wat op spesiale medikasie is.

Eers was ek by Baragwanath Hospitaal, maar as gevolg van die afstand elke maand het ek met hom na die kliniek in Krugersdorp toe gekom.

Elke maand is dit drama by die kliniek, en ek is nie die enigste ouer wat elke keer oor die diens kla nie. Verlede maand het my motor gebreek toe ons kliniek toe moes gaan. My man het nog die kliniek gebel en gesê ons sukkel met vervoer.

Die suster het gesê ons kan die medikasie die volgende dag kom optel. Die volgende dag toe ek daar kom was hulle so ongeskik met my en sê daar is nie meer medisyne nie. So óns kontak toe die hospitaal wat die medisyne aan die kliniek voorsien, en vra of daar nie ’n ander manier is om die pille te kry nie.

Die apteek by die hospitaal het ons terug verwys na die kliniek, en gesê hulle mag ons nie die medikasie weier nie. So was dit heeldag heen en weer. Die hospitaal het ook toe die kliniek gebel om te kyk wat hulle kan doen. Die hospitaal het ons teruggebel en vertel hoe ongeskik die mense by die kliniek met hulle was.

Die hospitaal het toe die medisyne aan ons verskaf.

Met ons volgende besoek by die kliniek was die suster met aankoms somer klaar nors met my. Ek was heel beskaaf met haar, en toe dit my beurt was het sy vir my eers mooi aangespreek. Haar woorde was dat dit nie haar probleem is as die pille nie die dag daar is nie.

Die suster het ook gesê ek kan haar maar gaan aankla en doen net wat ek wil, sy sal my terug Baragwanath Hospitaal toe stuur sodat ek daar dokters kan sien en pille kan kry.

Hoekom moet ons as pasiënte wat op staatsdiens moet staatmaak tevrede wees met sulke diens?

Ons betaal tog hul salarisse elke maand deur belasting. Kan ons as ouers en oumas wat elke maand by die kliniek sit vir ons kinders nêrens ’n oplossing vind nie?

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button