Local newsNews

‘Nee, ek bedel nie vir dwelms nie’

Hierdie bejaarde voel dat almal nie onder dieselfde kam geskeer moet word nie. Sy vertel hoekom:

Sy staan byna elke dag by die kruising van Hendrik Potgieter- en Jim Foucheweg; en nee, Katie Smit, 68, sê sy bedel nie om ’n dwelmverslawing te ondersteun nie.

Katie en haar man Manie, 71, wat in ‘n huis in Lewisham woon, moet met ’n Transnet-pensioen van R1 600 per maand klaarkom. Dit is nie genoeg om al hul uitgawes te dek nie.

“Ek kwalifiseer ook nie vir ’n staatspensioen nie,” het sy gesê.

Katie Smit bedel nou vir agt maande om aan die lewe te bly.
Katie Smit bedel nou vir agt maande om aan die lewe te bly.

Manie werk steeds. Hy is ’n sekuriteitswag, maar sy salaris is baie wisselvallig.

Hy het gesê, “As ek nie werk nie, gaan ons minder geld hê. Nou het ons elke maand darem ’n bietjie ekstra geld.”

Katie wens haar man kan ophou werk. Hy is sieklik en gedaan. Party oggende sukkel hy selfs om uit die bed te kom omdat hy so swak is.

Katie se dogter en haar kêrel het vier jaar gelede begin bedel; agt maande gelede het Katie ook daarmee begin.

“Toe ek uitvind ek het kolonkanker, moes ek ophou met die werkies wat ek destyds nog gedoen het.”

Lees ook:

[VIDEO] ‘Ja, ek bedel vir dwelms’

[VIDEO] ‘n Oplossing vir die bedelprobleem?

Katie het besighede se werkspakke gewas, herwinbare materiaal bymekaargemaak en ’n inkomste gemaak waar ook al sy kon, maar as gevolg van die kanker kan sy nie meer maklik rondbeweeg nie.

Sy is nou kankervry, maar loop steeds met die nagevolge van die operasies rond.

“Ek moet ’n sakkie op my maag dra. So ek kan nie buk nie.”

Katie het begin bedel omdat sy geen ander uitweg kon sien nie, maar sy is nie van plan om dit vir die res van haar lewe te doen nie.

“Ek is op soek na ander geleenthede, maar ek doen wat ek moet om te oorleef.”

Manie en Katie se kinders en kleinkinders kom kuier gereeld vir hulle in Lewisham. Dan word daar met fietse in hul oprit gery – amper soos by ’n Sondag-familiebraai.

“Nee my kind,” lig Katie vinnig in.

“Daar is nie geld vir braai nie.”

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.

Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Back to top button