Local newsNewsSchoolsUpdate

Caden se toestand wek steeds kommer

Baksteenslagoffer, agtjarige Caden Slabbert het op Moedersdag vir die eerste keer in amper 10 dae op 'n stoel gesit.

Die agtjarige seun, Caden Slabbert, wat in sy pa se motor met ‘n baksteen teen sy kop getref is, het moontlik ‘n beroerte gehad as gevolg van die beserings wat hy opgedoen het.

Die News het vanoggend met Caden Slabbert se ma Andriëtte Cooper gesels wat gesê het dat Caden volgens die dokters simptome toon van iemand wat ‘n beroerte gehad het.

Caden en sy sussie Eden sou die langnaweek aan die einde April by hulle pa in Alberton gaan kuier het toe ‘n kwaaddoener ‘n baksteen van ‘n brug af gegooi het en hom deur die kar se ruit getref het.

Caden, wat in ‘n geïnduseerde koma was, is verlede week van die ventilator afgehaal en kon self asemhaal. Sy ma het vertel die dokters het gewaarsku dat wanneer hy uit die koma kom hy moontlik onttrekkingsimptome, hallusinasies en terugflitse sou kry as gevolg van die sterk medikasie waarop hy is.

“Die regterkant van sy lyfie is baie swakker as die linkerkant,” het Cooper tydens ‘n telefoniese onderhoud aan die News vertel.

Dokters het reeds gewaarsku dat omdat hy aan die linkerkant van sy kop getref is, hy moontlik ‘n persoonlikheidsverandering kan ondergaan en mag sukkel met sy spraak.

“Die dokters is steeds baie positief,” het Cooper gesê. Hulle is glo tevrede met Caden se vordering maar is steeds bekommerd oor die wond waar die linkerkantse deel van sy skedel verwyder is en weer dié week opgebou gaan word

As gevolg van die beserings en onttrekkingsimptome huil Caden soms baie en sy lyfie trek styf.

Caden se pa Justin Slabbert saam met sy sussie Eden.
Caden se pa Justin Slabbert saam met sy dogter Eden.

Sy het ook vertel dit kan tot twee jaar neem voordat bevestig kan word of hy permanente breinskade opgedoen het. Die Clinton Hospitaal-personeel het egter gesê hulle het “nog nie een traumaslagoffer by hulle hospitaal verloor nie,” het Cooper optimisties vertel.

Caden sal rehabilitasie en fisioterapie moet ontvang vir om weer te leer loop, eet en praat.

Die klipgooier is nog op vrye voet en die polisie in die omgewing waar die insident was is skynbaar op soek na ‘n onstabiele man wat naak op die hoofweg loop en bakstene en klippe van die brûe rondom The Glen-winkelsentrum afgooi.

Check Also
Close
Back to top button