CrimeLocal newsNewsUpdate

Nuwe hoop vir organisasie na skade aan voertuig

Tien tree terug vir niewinsgewende organisasie word toe vyftien tree vorentoe danksy die gemeenskap se bydrae.

‘n Niewinsgewende organisasie wat na gebroke vroue en kinders omsien is in die wolke nadat hul enigste ordentlike voertuig aan hulle terugbesorg is.

Nagenoeg R40 000 se skade is verlede maand aan The Cradle of Hope se bussie-tipe voertuig aangerig toe boosdoeners dit moontlik wou steel tydens ‘n aand waar die vroue en kinders vir ‘n heerlike ete by ‘n familierestaurant in Ruimsig deur ‘n donateur uitgenooi is.

Die News het op 9 Februarie hieroor verslag gelewer, kliek hier om die aanvanklike artikel te lees.

Dit is duidelik dat die boosdoeners tydens hulle poging gesteur is, want toe Melodie van Brakel, stigter van die organisasie, na die voertuig is het sy agtergekom dat die paneelbord beskadig en al die drade uitgepluk is. Die boosdoeners was moontlik op soek na ‘n opsporingstelsel.

Die inbrekers was maklik 30 minute lank besig en het toegang tot die passasiersdeur verky deur die slot oop te breek.

“Dit was ‘n aaklikge tydperk vir ons; ons het só gesukkel!”

Sy het gesê hulle moes toe staat maak op die organisasie se ander voertuig, ‘n Toyota Tazz, wat reeds 16 jaar oud is en wat ook nie ruim genoeg is om meer persone daarin te kan vervoer nie.

“Dit het dus beteken dat ons ‘n paar keer op en af moes ry om die mense van die organisasie te vervoer sodat hulle by die plekke waar hulle moes wees, kon wees – die petrolkostes het ons ook ‘n aansienlike bedrag gekos.”

Sy het verder gesê dat hulle ook bekommerd was oor die welstand van een van hul inwoners Berny Erasmus, wat op die laaste stadium van haar swangerskap met haar baba Zuleika was.

“Omdat die Tazz nie heeltemal betroubaar was nie, was ons baie senuagtig, maar klein Zuleika is gebore en is reeds amper vier weke oud,” het Van Brakel trots gesê.

“Nog ‘n bussie sal baie gaaf wees, maar op die oomblik is ons net bly dat ons dié voertuig terug het, dit gaan ons lewens soveel makliker maak.”

Nou hoop Van Brakel dat hulle binnekort weer ‘n radio in die voertuig sal kry wat tydens die inbraak gebuit is.

“As ons die radio ook wou laat vervang het, sou die versekeraars die voertuig afgeskryf het. Ons hoop regtig om veral die kinders op langer ritte met kinderliedjies besig te kan hou.”

Sy het gesê sy is ook dankbaar vir die gemeenskap wat hulle in die tyd van nood bygestaan het.

“Anré Makelaars was baie professioneel. Rubicon Autobody Repairs wat ons voertuig vir ons in ‘n rekordtyd herstel het, het ons finansieël bygestaan deur ‘n bedrag van die prys af te trek.”

Van Brakel het ook die News vir die aanvanklike artikel oor die situasie bedank en het gesê danksy dié artikel het Auto Sonic ‘n alarmstelsel en immobiliseerder heeltemal gratis vir hulle geinstalleer.

“Ons is ongelooflik dankbaar.”

Back to top button