Local newsNews

Gee steeds lewe 200 skenkings later

Eers was dit haar mikpunt om 100 plaatjieseenhede te skenk, toe is dit 200, nou hoop sy op 300.

Met blomme, sjokolade en ‘n botteltjie vonkelwyn as bedanking het ‘n getroue bloedskenker haar 200ste bloedplaatjie skenking afgehandel.

“Ek sal skenk tot die dag wat die dokter vir my sê ek is nou te oud.”

Só het Wilna McCarthy geskerts toe sy met ‘n glimlag vertel dat dit vir haar ‘n trotse oomblik was om hierdie mylpaal te kon haal.

“‘n Mens kan die duurste geskenk in geldwaarde gee, maar as jy nie lewe het nie beteken geld niks nie. Daarom glo ek, ek is deur God geroep om op hierdie manier lewe aan ‘n ander te gee.”

Vir amper 17 jaar lank is sy klokslag elke maand by die bloedbank om haar deel te gee – en mens kan nie dink dit het als begin deur ‘n nuuskierige prikkeling nie.

“Ek kan nie eers onthou in watter jaar ek my eerste eenheid bloed geskenk het nie, maar onthou wel dat ek daarvan in die koerant gelees het en toe uit nuuskierigheid wou sien waaroor dit regtig gaan.”

Wilna het gesê die koerantberig het al daardie tyd mense aangeraai om te skenk en omdat dit oor die vakansietydperk was, was daar ook ‘n tekort aan bloed.

“En dit is van daardie oomblik af wat die gogga my gebyt het; dit is soos ‘n verslawing.”

Sy het gesê dit is asof haar liggaam vir haar elke maand sê dat sy nie haar afspraak moet mis nie.

Eers was haar mikpunt om 100 bloedplaatjies te skenk, toe dit gehaal is was die volgende mylpaal 200.

“Vandag tril my lyf en my hart klop van opgewondenheid. Vir jare lank was dit my mikpunt om hierdie mylpaal te haal. Nou is my volgende doelwit om 300 skenkings te doen.”

Wilna McCarthy (middel) word hier deur personeellede van die Suid-Afrikaanse Bloeddiens (SANBS) vir haar 200 bloedplaatjies bedank. Hier gee Papa Mmatu (bloedversamelingsbestuurder) en Suster Amanda du Plessis vir haar 'n paar geskenke as waardering vir haar getroue skenkings.
Wilna McCarthy (middel) word hier deur personeellede van die Suid-Afrikaanse Bloeddiens (SANBS) vir haar 200 bloedplaatjies bedank. Hier gee Papa Mmatu (bloedversamelingsbestuurder) en Suster Amanda du Plessis vir haar ‘n paar geskenke as waardering vir haar getroue skenkings.

Wilna het bygevoeg dat al 200 skenkings deur haar regterarm gedoen is omdat daar nie ‘n geskikte aar in haar linkerarm gekry word nie.

“Ek is ook die enigste een in my familie wat kan skenk, so ek is regtig bevoorreg!”

Sy sien nou uit na die volgende agt jaar en vier maande, die tydperk wat dit neem om 100 bloedplaatjieskenkings te skenk

Volgens die SANBS is die skenkingsproses ongeveer twee ure. Die bloed word deur middel van ‘n selskeidingsmasjien verwerk wat die plaatjies behou en die skenker se bloed weer terugbesorg. Hierdie manier stel skenkers dan in staat om elke maand te kan skenk.

Die plaatjies word onder meer aan siek mense, veral pasiënte wat met kanker gediagnoseer is, geskenk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button