Local sportSport

Heerlike weer laat die speke sing

Byna 5 000 deelnemers het aan vanjaar se Action Ford Berge en Dale Classic deelgeneem.

Die speke het dié afgelope Saterdag op die Wes-Rand se paaie gesing toe nagenoeg 5 000 fietsryers by die beginpunt van vanjaar se Action Ford Berge en Dale Classic weggetrek het.

Alhoewel die twee roetes van onderskeidelik 55km en 102km baie uitdagings ingehou het, moes die deelnemers wat van heinde en ver gekom het, se bene maar hou. Die vertrek- en eindpunte was by Cradlestone Mall en deelnemers het die sukses van die byeenkoms toegeskryf aan goeie beplanning en heerlike weer.

Tracy en Christian Heinrich glimlag nadat hulle die fietsren saam voltooi het.
Tracy en Christian Heinrich glimlag nadat hulle die fietsren saam voltooi het.

Jaco en Clarisa Fouché van Protearif het die 55km as maklik in die beginfases van die fietsren beskryf, maar gesê dat dit al moeiliker geword het soos die strawwe kilometers sy tol op hul bene begin eis het.

“Vir my is dit ‘n stokperdjie, iets wat ek graag saam met my gesin doen,” het Jaco gesê.

Die mooi uitsig en landskap van die Wes-Rand was vir Tania Waldeck van Pretoria baie opvallend op die 55km-roete en sy het gesê dit het alles vir haar die moeite werd gemaak.

“Dit was my eerste keer wat ek aan die fietsren deelneem en omdat dit so mooi is sal ek dit vir seker weer doen.”

Anthony Jansen van Nieuwenhuizen van Hoërskool Noordheuwel het gesê hy is mal oor fietsry.
Anthony Jansen van Nieuwenhuizen van Hoërskool Noordheuwel het gesê hy is mal oor fietsry.

Sy het geskerts dat sy nog ‘n bietjie meer moet oefen om volgende keer die 102km-roete te kan ry.

Vir pa en seun Ben en Wynand van den Heever was dit ‘n baie lekker geleentheid om die vars lug van die Wieg van die Mensdom-gebied in te asem. Hulle het gesê hulle ry gereeld fiets en geniet elke oomblik daarvan.

Vir nog foto’s, kliek hier.

 
Back to top button