CrimeNews

Vrouens spring amperse kaping vry

'n Angstige inwoner druk haar toeter en jaag weg vir kapers in Krugersdorp-Wes.

‘n Vrou en haar skoondogter het laat Sondagaand 25 Januarie met Viljoenstraat in Krugersdorp-Noord afgery toe hulle ‘n verdagte swart BMW op die hoek van Derdestraat skuins sien stilhou.

Twee mans en ‘n vrou het na bewering buite die voertuig gestaan terwyl die bestuurder in die kar gesit het.

Dit was aanvanklik nie vir hulle vreemd nie siende dat die verdagtes goed geklee was, asof hulle van die kerk af kom.

Die vrou, wat liefs anoniem wil bly, sê toe sy huis toe ry, het sy ‘n leerlingbestuurdervoertuig agter hulle sien ry.

“Ek glo hulle het ons agtervolg maar het hulle afstand gehou.”

Toe die twee vroue verby HTS Nic Diederichs in Jonesstraat ry was daar skielik skerp ligte agter hulle. Die bestuurder van die BMW het die skerp ligte sowat twee blokke ver aanhou flits en agter haar aangejaag.

Eers het sy gedink dat dit ‘n polisiebeampte kon wees aangesien sy as gevolg van die reën nie goed kon sien nie.

Sy het toe stadiger en kant toe gery sodat die BMW kon verbyry.

“Die volgende oomblik is hulle langs my, in die middel van die pad.”

Sy het stilgehou omdat die voertuig al hoe nader aan haar beweeg het, asof hul haar van die pad af wou druk.

Die BMW het voor haar stilgehou met die neus van die kar so gedraai dat sy nie kon verbyry nie.

Sy het haar venster op ‘n skrefie oopgemaak toe die verdagte vrou vir haar skree, “Verskoon tog”.

Toe sy die regterkantse agterdeur van die BMW stadig sien oopgaan, het haar skoondogter angstig vir haar geskree om nie stil te hou nie.

“Ek kon nie vorentoe ry nie, en het my voertuig toe in trurat gesit en sowat drie voertuiglengtes agteruit gery. Ek het ook my toeter aanhoudend gedruk.”

“Ek kon hoor hoe hulle vir my lag soos ek paniekbevange agteruit ry.”

Die verdagtes het hulle waarskuligte aangeskakel en daar bly wag.

Sy het toe dapper haar voertuig in eerste rat gesit en verby die verdagtes gejaag.

Hulle het haar agtervolg maar vinnig verdwyn toe sy langs ‘n ADT-sekuriteitsbakkie stilhou.

Inwoners van Krugersdorp word gewaarsku om op die uitkyk te wees vir die verdagte voertuig wat in die dorp rondry.

Back to top button