Local newsNews

Passie vir foto’s vloei in sy are

Toe die passie gogga vir foto's neem vir Piet Sparks byt, het hy dit behoorlik gedoen.

‘n Fotografie museum?

Hierdie is die eerste gedagte wat in ‘n mens se kop dwaal wanneer jy by Piet Sparks se ateljee Sparks Photography in Monument instap.

In ‘n vertoonkas van sowat twee meter in lengte, staan ‘n verskeidenheid van ou kameras, kamera-toerusting en projekteers.

“Dit is ‘n stokperdjie wat jare gelede deur my pa (Pieter Sparks) begin is toe hy nog die ateljee besit het. Ek het net daardie liefde by hom oorgeërf.

“Ek het seker maklik 350 verskillende soorte kameras. Nie almal is in my ateljee nie omdat daar nie plek is om hulle almal hier aan te hou nie,” verduidelik hy en wys met sy vinger na die Roliflex-Hasselblad film kamera in die kas.

“Dit is een van my gunsteling kameras, ook die digitale kameras soos Nikon is vir my goeie produkte om as fotograaf te gebruik.”

Alhoewel hy aanvanklik gedink het dat fotografie nooit ‘n loopbaan vir hom sou word nie, is hy bly dat hierdie beroep hom gekies het.

“Om foto’s te neem is by my ingebore,” het Piet gesê wat nou reeds vir meer as drie dekades lank agter die kamera inskuif om oomblikke wat vir jare lank nog blywend sal wees, vas te lê.

Hy het as ‘n jong seun by die ateljee betrokke geraak toe sy pa dit in 1960 begin het. Daar het hy ekstra sakgeld verdien wanneer hy saam met sy pa na verskeie funskies soos troues heen is.

Tydens hierdie funksies het hy die verantwoordelikheid gekry om die films in die kamers te sit.

“Maar ek het self nooit foto’s geneem nie.”

Hy verduidelik nadat hy sy matriekjaar voltooi het is hy weermag toe en op daardie stadium het hy gedink dit is iets wat hy vir die res van sy lewe sal wil doen.

“Ek het nooit daaraan gedink dat ek ‘n loopbaan as fotograaf sou kies nie. Dit is eers later dat ek besluit het om vir ‘n Nasionale Diploma in Fotografie in te skryf by die Pretoria Technikon.”

Daardie jare beskryf hy as lekker, maar moeilike jare.

“Terwyl ek studeer het, het ek by my pa gewerk om op hierdie manier ‘n bietjie ondervinding op te bou.”

Alhoewel hy nooit regtig in enige fotografie onderwerp gespesialiseer het nie, het hy ‘n liefde daarvoor gekry om industriële en advertensie fotografie te doen.

Op die oomblik doen hy enigiets wat die kliënte wil hê hy moet doen, van studio fotografie, tot foto’s van skool geleenthede.

Sy foto-stokperdjie is om landskappe ook af te neem.

“Sodra ek foto’s begin neem dan kry die kreatiewe deel van my brein lewe. Dit is dan wanneer ek kyk hoe om die onderwerp vas te lê: ek wil ‘n foto in ‘n foto raaksien.”

Back to top button