Local newsNews

VIDEO: Oomblik van waarheid amper hier

Armand du Plessis, die enigste Wes-Randse deelnemer aan die Mnr Suid-Afrika- kompetisie dring deur na die finaal.

Dit is asof ‘n berg van sy skouers af is.

Só verduidelik die amper-prokureur Armand du Plessis, 26, terwyl hy ‘n happie van sy hoenderborsie neem wat die kelner van ‘n koffiewinkel in Krugersdorp oomblikke tevore voor hom neergesit het.

Amper drie maande lank het ‘n kontrak hom verbied om die aap uit die mou te laat dat hy nou nog nader aan sy droom is om die Mnr Suid-Afrika titel Wes-Rand toe te bring nadat hy as een van die Top 12-finaliste aangewys is.

“Ons is verbied om enige iets te sê. Jy is so opgewonde, maar moes dit vir jouself hou omdat die organiseerders die aankondiging self wou doen – nie eers ons vriende of familie het geweet nie.”

Nie hy of die ander deelnemers het geweet hoe lank hulle nog met hierdie geheim sou moes saamleef nie.

“Ek het een oggend wakker geword en al die facebook- en twitter-kennisgewings op my selfoon gesien. Omdat ek ‘n dag voor die aankondiging verjaar het, het ek gedink dit is laat gelukwensings.”

Teen die einde van volgende week, na maande se harde werk en sweet, sal ons finaal weet of Armand die Mnr Suid-Afrika-kroon Wes-Rand toe bring.

“Ek sal bly wees as ek die titel wen omdat dit baie deure vir my sal oopmaak, maar die titel is nie alles nie,” het hy gesê.

“My gemeenskap bly steeds baie na aan my hart en ek sal daarom steeds aanhou om ‘n verskil te maak.”

Die kompetisie, het hy gesê, was vir hom ‘n baie goeie leerskool omdat hy as persoon die geleentheid gekry het om te groei en mense te ontmoet.

“As dit nie vir hierdie kompetisie was nie sou ek nooit al die plekke gesien het nie. Vir my was dit ‘n ongelooflike tyd want ek het gesien wie is regtig daar vir jou en ook op wie se knoppies ‘n mens kan druk.”

Indien hy tydens ‘n spoggeleentheid volgende Woensdag by EnGedi in die Wieg van die Mensdom nie as een van die drie finaliste aangewys word nie sal dit steeds vir hom die moeite werd gewees het.

“Ek wil kan terugkyk en sien dat ek als gedoen het wat ek kon. Hierdie was ‘n unieke geleentheid waartydens ek baie hard gewerk het en als ingesit het. Ek weet dat die ander elf finaliste net so hard gewerk het.”

Indien sy paadjie nie die Mnr Suid-Afrika-titel kruis nie, sal hy vir ‘n jaar lank klerkskap by sy pa se prokureursfirma doen as deel van die vereistes om as prokureur te kwalifiseer.

“Ek sal steeds tevrede wees, want ek sal nooit ophou om terug te gee aan my gemeenskap nie.”

Om Du Plessis te help om na die volgende rondte deur te dring kan daar steeds vir hom gestem word tot die dag van die finale (28 Januarie) deur die woord MRSA 008 na 47439 te SMS. Elke SMS kos R3.

Verwante artikels:

The right tools for Lecobi

‘n Man moet hou by sy woord

Komberse met ‘n tikkie warmte en liefde

Back to top button