Editor's choiceLocal newsNewsUpdate

Roofslagoffer dankbaar om te lewe

Die jong man wat verlede jaar in 'n ernstige motorfietsongeluk betrokke was het gesê hy het nog niks van die bestuurder gehoor wat hom gestamp het nie.

Die 20-jarige man wat verlede September deur sowat 20 omstanders aan sy gebreekte arms rondgesleep en beroof is ná ‘n ernstige motorfietsongeluk het ‘n nuwe uitkyk op die lewe.

“Wanneer ‘n mens so ‘n ernstige ongeluk oorleef, is jy net te dankbaar om elke oggend wakker te word,” het Quinten Wagner gesê. Hy was amper vyf weke lank in die Netcare Milpark Hospitaal na die ongeluk en aanval.

Van die oomblikke toe hy na bewering deur ‘n bakkie van sy Big Boy GPR 250R-motorfiets op die hoek van Derde- en Onderstestraat in Krugersdorp-Noord gestamp is, kan hy niks onthou nie.

“Ek kan wel onthou dat ek vir die bakkie voor my uitgeswaai het.”

Hy het gesê hy het twee weke na die voorval – en nog baie deurmekaar – in die hospitaal wakker geword en probeer uitvind waarom hy in die hospitaal was.

“Ek was twee weke lank onder verdowing en aan ‘n ventilator gekoppel. Tussendeur het ek talle operasies ondergaan as gevolg van die ernstige beserings wat ek opgedoen het.”

Sy erg beseerde linkerarm, wat ook sy skryfarm is, is tot onlangs toe nog vir infeksie behandel.

“Daar was sprake dat ek my arm kan verloor. Op die oomblik lyk dit of die medikasie wat ek ontvang het begin werk,” het Wagner gesê.

“Al is my arm baie beter, het ek nog baie beperkte gebruik daarvan; ek kan byvoorbeeld nie bestuur nie.”

Dié arm is so erg beseer dat die been by sy hemp uitgesteek het. Tydens ‘n noodoperasie is ‘n pen ingesit wat teen Junie vanjaar uitgehaal kan word as als goed gaan.

Ses van sy ribbes en sy sleutelbeen is gebreek en sy lewer is geopereer. Daar was ook probleme met sy pankreas.

Hy was afhanklik van bloedskenkings omdat hy baie bloed verloor het, en dit spoor hom aan om sodra hy beter is self te gaan bloed skenk.

“Iemand anders se bloed het my gered en ek wil nou my deel teruggee.”

Toe hy gevra is of hy weer op ‘n motorfiets sal klim, het hy gesê hy is nie seker of hy weer daarmee op die pad sal ry nie.

“Mense kyk nie uit vir motorfietsryers nie. Dit is die derde motorfietsongeluk waarin ek was – ek is steeds lief vir die idee om op ‘n motorfiets te wees, maar sal heel moontlik net vir pret daarmee ry.”

Wagner het gesê verlede jaar was ‘n traumatiese jaar vir hom en vir sy gesin omdat sy pa Hennie voor hulle oprit in Dan Pienaarville deur rowers doodgeskiet is.

Quinten Wagner nadat hy in die Netcare Milpark Hospitaal wakker geword het met die ventilatorpyp nog in sy keel.
Quinten Wagner nadat hy in die Netcare Milpark Hospitaal wakker geword het met die ventilatorpyp nog in sy keel.

“En toe is ek ook in die ongeluk. Ek dink dit was vir my ma Monique ekstra moeilik. Sy het selfs drie weke van die werk afgeneem om elke dag by die hospitaal te wees.”

Daarom het hy besluit om vanjaar rustiger te wees en net op sy loopbaan in die sekuriteitsbedryf te fokus.

Hy het nog nie ‘n saak by die Krugersdorp Polisiestasie geopen nie omdat hy geen inligting het oor die bestuurder van die bakkie wat hom gestamp het nie.

“Die bestuurder het nog nie eers die moeite gedoen om my te kontak nie, al is dit net om jammer te sê oor wat gebeur het.”

Sy mediese en hospitaalkostes beloop al amper R1 miljoen, daarom het hy die hulp van die gemeenskap nodig om hom te help om ‘n fonds te stig waarin skenkings betaal kan word of om maniere te vind om ‘n fondsinsameling te reël.

Kontak Wagner by 081 487 0294 vir meer inligting.

Back to top button