Local newsNews

Gemeenskap se hulp benodig vir klein vegtertjie

Die drie-jarige-peuter wat verlede maand amper verdrink het sal hierdie Kersfees nie saam met sy gesin by die huis kan spandeer nie, maar die gemeenskap kan sy gesin op hierdie manier help.

“Hy is ‘n klein vegtertjie.”

Só beskryf sy ouers Paul en Chantal Sellwig hulle drie-jarige-peuter wat verlede maand amper verdrink het, maar wat met sy lewenslus om te bly lewe aanhou baklei het.

Ten spyte daarvan dat amperse verdrinkingsgevalle ‘n baie klein suksessyfer het, het Tristan, of Boeboe soos hulle hom by sy noemnaam ken, bly deurdruk.

“Gebedsgroepies is gestig nadat die nuus oor sy verdrinking bekend geword het en ons glo dit is waar wonderwerke begin het,” verduidelik Chantal.

Skaars ‘n maand ná die ongeluk toe hy in sy ouma Lynette Minnie se swembad in Rant-en-Dal vir ‘n onbekende tydperk beland het, is hy van die intensiewe sorgeenheid van die Netcare Garden City-kliniek na die Netcare Rehabilitasie Hospitaal in Aucklandpark oorgeplaas.

Op die oomblik moet Tristan weer van voor af leer om te loop, praat en te eet.

“Hy is weer soos ‘n pasgebore baba; sy brein en sy sintuie moet nou weer met terapie geleer word om met mekaar te kommunikeer.”

Dokters kan steeds nie vastel wat die omvang van die skade aan sy brein is nie, maar is van mening dat die breinskade wat op die oomblik daar is, moontlik herstel kan word.

“Die dokters het aan ons verduidelik dat hy nog baie jonk is en dat sy brein nog aan die ontwikkeling is.”

Die Sellwigs is optimisties dat hulle jongste seun weer binnekort glimlagte en drukkies aan almal gaan uitdeel.

“Dit is hoe hy onthou sal word, behalwe vir die feit dat hy speelvol, avontuurlustig en ‘n bietjie stout is.”

Die finansiële las wat die ongeluk veroorsaak het ‘n verdere kopseer vir die ouerpaar en hulle hoop om die gemeenskap bymekaar te kry om te help.

Die rehabilitasiekoste beloop sowat R128 000 per maand en daar is geen ander hospitaal wat sal kan help as die een in Auckland Park nie.

Om die gesin hierdie Kersfees te help word ‘n Fondsinsameling Kersmark ten bate vir Tristan se mediesekostes hierdie Saterdag 20 Desember by die NG Kerk Krugersdorp-Oos in Lismorestraat, Kenmare gehou. Die geld sal na ‘n trustfonds gaan wat in sy naam vir hom oopgemaak is.

Daar is plek vir 100 stalletjies teen R250 per stalletjie waar gemeenskapslede hulle handgemaakte of tuisgebakte items kan verkoop.

Toegang sal R10 per persoon vir volwassenes wees terwyl dit gratis vir kinders is.

Vir meer inligtig kontak Tristan se pa Paul by 083 963 2095.

Check Also
Close
Back to top button