Local newsNews

Treinritte bring glimlagte vir Kersfees

Die Wes-Randse Vrymesselaars het talle kinders van die Mug & Tree Gemeenskapsorgsentrum in Krugersdorp-Wes met 'n Kersfees-funksie bederf.

Om glimlagte op 41 kinders van die Mug & Tree Gemeenskapsorgsentrum in Krugersdorp-Wes se gesigte te sien is waarom die Wes-Randse Vrymesselaars onlangs hulle jaarlikse Kersboom gehou het.

Leigh-Anne van der Berg, Mishke-Lee Swart en Jaydene Hattingh neem 'n vinnige blaaskans van die springkasteel deur eers hierdie roomys te geniet.
Leigh-Anne van der Berg, Mishke-Lee Swart en Jaydene Hattingh neem ‘n vinnige blaaskans van die springkasteel deur eers hierdie roomys te geniet.

Die kinders het die geleentheid gekry om vir ‘n dag uit hulle omstandighede te ontsnap en vir ‘n slag net kind te wees toe hulle by die Woodside Miniatuur Treinstasie van The Rand Society of Model Engineers in Florida, Roodepoort met treinritte bederf is.

‘n Springkasteel en lekkernye soos roomys, koeldrank en ander eetgoed het die kinders vir die dag besig gehou voordat Kersvader op ‘n ysterperd aangekom het om die speelgoed wat onder ‘n Kersboom geplaas is, uit te deel.

Trudie Naudé, stigter van die Mug & Tree Gemeenskapsorgsentrum in Krugersdorp-Wes is hier saam met die kinders van die sentrum op een van die miniatuur treinritte. Saam met haar is Jan Bylevelt, Ewert Bylevelt, André Kloppers en Brandon Neveling.
Trudie Naudé, stigter van die Mug & Tree Gemeenskapsorgsentrum in Krugersdorp-Wes is hier saam met die kinders van die sentrum op een van die miniatuur treinritte. Saam met haar is Jan Bylevelt, Ewert Bylevelt, André Kloppers en Brandon Neveling.

Hennie Kotzé, een van die organiseerders van die dag het gesê hulle as die Vrymesselaars hou gereeld sulke projekte, maar die Kersboom-funksie, wat reeds vir meer as 10 jaar elke jaar gehou word, is hulle grootse projek.

“Ons kyk elke jaar waar die grootste nood is en ook hoeveel geld ons vir die projek het omdat dit alles uit ons sakke kom.”

Hennie sê dit is vir hulle belangrik om te sien dat kinders wat nie so bevoorreg as ander is nie ook die geleentheid kry om ‘n heerlike Kersfees te geniet.

Kersvader ontvang hier talle drukkies van Mug & Tree Gemeenskapsorgsentrum se kinders tydens sy besoek.
Kersvader ontvang hier talle drukkies van Mug & Tree Gemeenskapsorgsentrum se kinders tydens sy besoek.

Back to top button