Local newsNews

Eerder rolmodel as modepop vir Mej Wes-Rand

Sy wil hê die kinders moet haar as 'n rolmodel beskou.

Vir die nuwe Mej Wes-Rand lê ‘n vrou se skoonheid in wat in haar hart aangaan en nie in die uiterlike nie.

Die 23-jarige Adeline Sauerman volg nou in die voetspore van haar voorganger Jessica Fahrina wat die kroon tydens ‘n spoggeleentheid aan haar oorhandig het.

“Ek het aan die skoonheidskompetisie deelgeneem om ‘n rolmodel vir ‘n ander asook vir my dansstudente te wees. Ek wil hê hulle moet na my opkyk en sien dat skoonheid van binne kom – ek het dit nie gedoen om ‘n model te wees nie,” het Adeline gesê. Sy is ‘n dansinstruktrise wat moderne, kontemporêre en jazz vir jong meisies by die Rhythm In Us-dansateljee in Rant-en-Dal aanbied.

“Om die waarheid te sê hou ek nie eintlik van model speel nie!” het sy laggend gesê.

Dit was die eerste skoonheidskompetisie waaraan sy ooit deelgeneem het en het gesê dit was omdat Louis de Nobrega, haar mentor by die dansateljee haar aangemoedig het om dit te doen.

“Ek moet sê ek was heeltemal uit my gemaksone. Ek het gedink ek gaan verskeie opgedolliede poppies met aangeplakte grimering teëkom, maar was verbaas toe dit nie so was nie.”

Adeline sê sy en die ander deelnemers het eintlik baie goeie vriende geword.

Oor haar planne en drome as Mejuffrou Wes-Rand glo sy dat dit baie deure vir haar sal oopmaak wat voorheen net bly toeklap het.

“Ek glo die titel gaan my help om van my projekte op die been te bring waarby ek reeds voor die kompetisie betrokke was.”

Kinders lê haar baie na aan die hart en aangesien verskeie kinders reeds haar voorbeeld wil volg, is dit vir haar belangrik om op daardie beeld voort te bou.

“Vir my gaan dit nie oor hoe ek van buite lyk nie. Solank ek goed lyk sonder al die grimering is ek gelukkig; ek spandeer daarom nie my tyd in spa’s en aan ander mooimaaksessies nie – dit is dus belangrik dat kinders dit sien.

“Daarom moet ek altyd versigtig wees oor hoe ek my beeld aan die wêreld uitdra.”

Ongelukkig vir die jong manne is daar reeds iemand spesiaal in haar lewe.

Back to top button