Local newsLocal sportNewsSport

VIDEO: Raak aktief met tennis

Tennis is volgens navorsing die perfekte manier om 'n mens se gewig en bloeddruk in toom te hou.

Met ‘n tennisraket in die hand sal volwasse tennisspelers nie net aktief bly nie, maar ook van die oortollige vetjies ontslae kan raak.

Hennie Kruger, hoofafrigter by die Krugersdorp Tennisklub in Waterfordweg, Kenmare sê dit is waarom hy besluit het om die Tennis Xpress Tennis-kursus aan te bied.

“Tennis is volgens navorsing die perfekte manier om ‘n mens se gewig en bloeddruk weer reg te kry en verbeter mens se algemene gesondheid,” sê hy.

“Tennis word beskou as een van die beste maniere om aktief te bly.”

Wanneer spelers die nege-uur lange kursus voltooi het, kan hulle al in minitoernooie begin speel om verder in die sport te vorder.

Daar word in die eerste drie lesse met die sagter rooi en oranje bal begin speel voordat daar in die vierde les met die harde groen bal gespeel word.

“Dit help dat spelers die reëls asook die basiese tegnieke en taktiek van tennis op ‘n aktiewe manier leer.”

Kursusgangers hoef nie iets van tennis te weet of toerusting soos tennisrakette of -balle te besit nie omdat die tennisklub dit voorsien. Al wat spelers hoef te bring is tennisskoene of tekkies wat nie merke op die baan sal maak nie.

‘n Kursus word vir minstens ses mense per les aangebied en kos R600 vir nege lesse elk van ‘n uur lank.

Vir meer inligting kan Kruger by 082 372 7289 of per epos by henrito@lantic.net gekontak word.

Back to top button