CrimeEditor's choiceNews

Ma soek self na seun se moordenaar

Na vier maande is daar nog geen antwoorde nie.

Dis al vier maande sedert haar seun vermoor is en nog geen leidrade is opgevolg of arrestasies gedoen nie.

Vir Monica Janse van Rensburg was die afgelope maand een lang nagmerrie, maar sy is vasberade om haar seun se moordenaar op te spoor.

Sy vertel dat sy self na antwoorde begin soek het omdat die polisie “te onbekwaam is om die saak op te los”.

Sedert haar seun Tinus Coetzee se liggaam in Junie agter ‘n nagklub in Krugersdorp-Wes gevind is, het die ondersoeke verskeie vreemde draaie gemaak.

Aanvanklik is sy dood aan ‘n oordosis dwelms toegeskryf en die toneel is skoongemaak sonder om enige afdrukke te neem.

Nadat daar deur ‘n nadoodse ondersoek deur die Roodepoort Lykshuis bepaal is dat haar seun aan inwendige beserings dood is, is sy aangeraai om ‘n saak van moord te rapporteer.

Die Krugersdorp Polisie het aan die news bevestig dat ‘n moorddossier geopen is maar tog vertel Janse van Rensburg dat hulle niks gedoen het om konkrete leidrade en bewysstukke op te volg nie.

“Selfoonboodskappe, ooggetuies se weergawe en selfs videomateriaal is net nie nagegaan nie,” sê sy.

“Die saak is intussen deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) oorgeneem maar daar is nog geen verwikkelinge nie.”

Meters van waar haar seun se liggaam gevind is, het familie en vriende ‘n gedenkmuur vir Coetzee opgerig.

Behalwe vir boodskappe van verlange, vertel Janse van Rensburg dat die muur ook opgerig is as ‘n herinnering aan die polisie en die moordenaars dat daar geveg sal word vir geregtigheid.

“Kom wat wil die skuldige sal betaal,” sê sy.

Tussen die teddiebere, blomme en boodskappe is daar ‘n foto van die jong Coetzee se liggaam op die moordtoneel met die byskrif: “My seun, jy het dit nie verdien nie”.

Daar is ook ‘n waarskuwing gerig aan die skuldige dat die familie nie sal ophou soek nie.

Langs die gedenkmuur is ‘n groot wit lap met die saaknommer in swart daarop geverf. Onder die nommer staan daar geskryf dat die familie enige inligting soek.

Die gedenkmuur wat opgerig is naby waar Tinus Coetzee se lyk in Junie gevind is.
Die gedenkmuur wat opgerig is naby waar Tinus Coetzee se lyk in Junie gevind is.

Daar is selfs al ‘n R5 000-beloning uitgeloof vir enige inligting wat tot die inhegtenisname van die skuldige kan lei.

Janse van Rensburg vertel dat haar jongste kind onlangs gedreig is met die doel dat die familie hul ondersoeke moet staak.

“’n Groep mans het haar voorgekeer terwyl sy in die straat gestap het en gesê dat sy haar familie moet waarsku om op te hou grawe, anders sal hulle soos haar broer sterf,” vertel sy.

Daar is ook onlangs skote deur haar huisvenster geskiet, maar Janse van Rensburg vertel dat sy nie sal ophou nie.

“Sy stem is stil, hy het niemand om vir hom te praat nie. Dis my plig.”

Sy sukkel steeds om haar kind se dood te verwerk maar herinneringe hou haar aan die gang.

Verwante artikel:

• OPVOLG: Jong man se liggaam agter nagklub: Moorddossier geopen

One Comment

  1. Wat se n mens vir n ma wat haar kind op so wreede manier verloor het? Niks geen woorde sal enige iets beter maak nie, maar aan die mense daar buite kan ons se ASB as enige iemand iets weet help die ma sodat sy ten minste met die deel ‘closure’kan kry, dit kon my kind of jou kind gewees ons broer of neef. Iewers weet iemand iets iemand moes gehoor of gesien het. Niks gebeur ooit sonder dat enige een dit hoor of sien.

    Aan die familie Sterkte ek kan my nie indink hoe seer julle het hoeveel vrae daar is wat onbeantwoord is nie. Mag God julle styf vas hou en vertroos.

    Aan die wat die daad gepleeg het. Hoe lewe jul met jul gewete saam? Sien jy nie nog die kind se gesig en oe voor jou nie? Hoor jy nie sy stem nie? Iewers moet iets wees wat jou pla ek bid dat dit jou tot raseny sal dryf sodat jy begin praat en die waarheid sal uit kom.

    The truth will set you free….

Back to top button