MunicipalNews

Stank hang al drie jaar oor straat

Swak diens maak inwoner warm onder die kraag.

Terwyl die Mogale City Munisipaliteit daarop roem dat hulle daagliks besig is om infrastruktuur in Krugersdorp op te gradeer voel Evert Teboekenhorst van Burgershoop weer dat hulle en veral die water- en sanitasie-afdeling se diens stink.

Teboekenhorts wat al vir meer as 60 jaar in Burgershoop woon, sê dat die gehalte van munisipale dienslewering die laaste ruk baie verswak het.

Die afdeling wat volgens hom die swakste vaar is die water- en sanitasie-afdeling.

Teboekenhorst het in 2012 vir die eerste keer indirek met die afdeling te doen gekry toe hy deur middel van wyksraadslid Jakkie Naudé ‘n rioolwaterlek in Van Riebeeckstraat laat aanmeld het.

Hy het intussen verskeie pogings aangewend om die lek te laat regmaak.

Vanjaar is die derde jaar dat die rioolwater in die straat langs die polisiekwartiere verbyloop en in ‘n spruit daar naby invloei.

“Dit lyk of die water uit die kwartiere se afvoerpyp kom,” sê Teboekenhorst.

Dis wasgoed-, skottelgoed- en toiletwater – honderde liters daarvan – maar munisipale voertuie ry net daaroor.

Teboekenhorst het intussen moed opgegee om die gesondheidsrisiko te rapporteer en sê dit voel vir hom soos ‘n doodloopstraat.

Back to top button