Local newsNews

Steun vir park groei

Verskeie gemeenslapslede het gesê hulle gaan die Boltonia Park-projek steun.

“Ons is bereid om te help.”

So het uitgesoekte gemeenskapslede van Krugersdorp hulle steun gegee toe die news hulle genader het om deel te word van ‘n groep Boltonia-inwoners se droom en visie om kinders van die strate af en uit die kattekwaad te hou.

Ten spyte van die drie artikels wat die afgelope jaar verskyn het waarin daar vir enige hulp gevra word, het slegs ‘n handvol mense gereageer.

Lebo Motswere, wat tot onlangs nog werkloos was, het besef hy kan sy tyd beter benut as om by die huis te sit.

“Ek het die nood in my gemeenskap raakgesien vir ‘n park waar kinders en hulle gesinne tyd saam kan spandeer en het toe mense van die area gekry wat saam met my ‘n beter toekoms vir die kinders wil hê.

“Ons wil hê hulle moet weer soos kinders speel en voel – hulle moet nie vermaak op die verkeerde plekke gaan soek nie.”

Hy en nog ander vrywilligers het met die goedkeuring van die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit ‘n stuk grond verkry wat verlede jaar nog ‘n onwettige stortingsterrein was en dit in ‘n park begin omskep.

Nadat Armand du Plessis (Mnr Suid-Afrika 2014-finalis), kunstenaar Dawid van Deventer, en Robert en Madeleine Botha (eienaars van die Robein Kwekery in Rustenburgweg in Krugersdorp-Wes) die park saam met die news besoek het, was hulle tevrede dat Motswere en sy span met min, maar met ywer, die park wil skep.

Die Bothas het ingestem om vir die span kompos, plante, blomme en bome te skenk.

“Ons sal regtig help met enigiets wat ons kan. Ek dink hierdie inisiatief van hulle is wonderlik en ons sal ook van ons kant af die gemeenskap betrokke probeer kry,” sê Madeleine.

Van Deventer het die span ‘n bietjie leiding gegee met die uitleg. Hy het hulle aangeraai om meer oop ruimte toe te laat waar die kinders kan speel in plaas daarvan om dit met paadjies te blokkeer.

Du Plessis het gesê hy sal ook betrokke wil wees en wil die park deel van sy Mnr Suid-Afrika-projekte maak.

“Ek gee vir seker my steun. Op hierdie manier leer ek ook meer oor ander gemeenskappe en sien hulle nood raak.”

Hy sê hy is bly dat dié gemeenskap ‘n visie het om hulle kinders ‘n beter toekoms te gee en die kinders van die strate wil weghou.

Indien die gemeenskap deel wil wees van dié projek kan hulle Motswere by 074 447 6647 of news-joernalis Jacobus Myburgh by 011 955 1130 kontak.

Verwante artikels:

• Park upgrade goes ahead without council support

• From dumpsite to park site

Back to top button